

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 December 2012
“Desember is ‘n emosionele maand, en soveel te meer vir mense wat reeds trauma ervaar,” sê ‘n plaaslike berader.
‘n Studie oor selfmoord in Suid-Afrika in 2008 het getoon dat die meeste selfmoordgevalle in Desember voorkom het. Daar is jaarliks ongeveer 7 000 selfmoorde, oftewel sowat 20 gevalle daagliks.
Plaaslike christelike berader Violet Prins sê dat traumabelewing in die huidige tydsgewrig baie algemeen is en dat mense dit nie moet binne hou en alleen probeer regkom nie.
Traumagebeure sluit natuurrampe, ongelukke, diefstal, besering, verlies van ‘n geliefde, eiendombeskadiging of enige oorweldigende emosionele gebeurtenis in. 'n Ander tipe trauma word nie noodwendig aan ‘n eenmalige aaklige gebeurtenis gekoppel nie, hoewel die individu oorweldigende emosie en ‘n gevoel van hulpeloosheid beleef.
Prins noem algemene tekens en simptome van stresreaksies in ‘n getraumatiseerde persoon. “Fisies voel die persoon dikwels naar, het ‘n ongestelde maag en bewe. Hy of sy voel ongekoördineerd, duiselig, het borspyn, hoofpyn of spierpyn en ondervind ‘n vinnige hartklop en asemhaling. Moegheid en slaapversteurings kom ook voor. Wat sy denke aanbetref, dink hy stadiger as normaalweg en konsentrasie is swak. Besluitneming , probleemoplossing, berekeninge en benoeming van alledaagse voorwerpe is moeilik. Op emosionele gebied is daar angs, skuldgevoelens, depressie, ‘n gevoel van isolasie en verlorenheid of woede en irritasie,” sê Prins.
Die stresreaksies gaan gewoonlik vinniger verby met die begrip en ondersteuning van geliefdes. Geliefdes word aangeraai om aandagtig na die persoon te luister en om ondersteuning aan te bied en nie te wag tot dit gevra word nie. Dit is belangrik om die persoon te help om veilig te voel en om stellings te vermy wat die trauma as iets gering afmaak. Geliefdes moet ook nie die getraumatiseerde persoon se woede persoonlik opneem nie.
Soms is die trauma van so ‘n aard dat die hulp van ‘n berader ingeroep moet word. Berading is ontwerp om die algehele impak van die traumagebeure te verminder en die herstelproses te bevorder.
Die plaaslike depressie ondersteungsgroep, onder leiding van mnr. Ben Smith, het al ‘n paar persone betrek wat hulle hulp aanbied vir persone met depressie en trauma. Dit is dalk handig om die volgende selfoonnommers te stoor: Ben Smith (082 358 1738), André Fourie (083 257 3127) dr. Cathryn Maritz ( 082 690 4262), Violet Prins (072 262 8646) en Hester Beukes (084 616 2355).
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
