

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 December 2012
Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) is van mening dat die huidige proses van openbare verhore ten opsigte van nuwe loononderhandelings vir plaasarbeiders onwettig is.
Dit was die kruks van die SDLU se voorlegging aan die Departement van Arbeid se openbare verhoor in die skousaal in Makhado (Louis Trichardt) op 6 Desember. Dié verhore is ‘n uitvloeisel van die onlangse arbeidsgeweld op plase in die Wes-Kaap rondom loonverhogings.
Huidige proses is onwettig
“Dit is hierdie landbou-unie se submissie dat hierdie proses onwettig is, en nie binne die toepaslike wetgewing plaasvind of val nie. Dit is die Minister van Arbeid se uitspraak dat hierdie proses nie kan geskied voordat daar 12 maande om is na die sektorale vasstelling in werking getree het nie. Dus kan hierdie proses eers in Maart 2013 plaasvind,” sê die SDLU in hul voorlegging. Dit is aan die departement oorhandig deur mnr. Fritz Ahrens (voorsitter van SDLU Arbeidsake).
Die voorlegging sê verder dat die huidige proses ook volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes onwettig plaasvind. “Die huidige sektorale vasstelling het agt maande geneem om te onderhandel en die vereistes van die werknemers het alreeds swaarder geweeg as die werkgewer s’n en is nou eers nege maande in plek. Almal was tevrede en die Minister van Arbeid het dit goedgekeur en in die Staatskoerant gepubliseer. Die loon is tans R1504 per maand! Daar is talle werkers op plase wat beslis meer verdien,” lees die SDLU dokument.
Die SDLU gee in die dokument ook ‘n uiteensetting van waarom ‘n onbeplande loonverhoging nie nou toelaatbaar is nie. “Wat het verander vanaf 1 Maart 2012? Die Rand het verswak, die dieselprys het gestyg en van die kossoorte se pryse het gedaal. Mielies se prys het weens ‘n tekort gestyg. Elektrisiteit het met 15% gestyg. Daar was beslis nie ‘n toename in landbou se winsgewendheid nie en daar het beslis nie enige finansiële ondersteuning gekom van die regering nie …” lees die dokument ondermeer.
Die SDLU sê verder ook in die dokument, na aanleiding van die arbeidsonrus, dat politici plaaswerkers misbruik het om politieke doelwitte te bereik en voordeel te trek, “terwyl hul daardeur voedselsekerheid in gedrang bring. Dit kom neer op sabotasie. Dus is die goeie verhouding tussen werkgewer en werknemer ontspoor. Hierdie is ‘n minimumloon vasstelling en moet nie nou verander word na ‘n maksimumloon vasstelling nie!”
Landbousektor moet beskerm word
Die SDLU noem in hul voorlegging dat landbou een van die min sektore is wat ongeskoolde arbeid in diens kan neem. “As gevolg van die swak onderwys in Suid-Afrika is daar ‘n groot aantal swak-opgeleide skoolverlaters. Landbou is in staat om te help om die mense in diens te neem. Kommersiële landbou lei jaarliks honderde plaaswerkers op. Dit is dus die ideale sektor wat beskerm moet word, sodat ongeskoolde of half-geskoolde werkers toegang tot die werksplek kan kry,” lui die voorlegging.
Verhoging gaan lei tot afleggings
Die SDLU waarsku in hul voorlegging dat buitensporige loonverhogings tot verdere afleggings op plase gaan lei. “Dit veroorsaak grootskaalse meganisasie en duisende plaaswerkers het reeds hulle werk verloor as gevolg van die feit dat landbouers nie langer die hoë salarisse kan bekostig nie,” is die SDLU se standpunt.
Wat die regering in ag moet neem
Die SDLU noem in hul voorlegging verskeie faktore wat in ag geneem moet word ten opsigte van die huidige proses van loononderhandelings. Dit sluit ondermeer in dat landbouers prysnemers is en nie prysbepalers van hul eie inkomste is nie. In kort beteken dit dat boere kry wat die mark bereid is om te betaal, en volgens die SDLU was daar geen noemenswaardige verhoging in die hekprys van produkte nie. In teenstelling hiermee, sê die SDLU, styg die koste van kunsmis, brandstof en elektrisiteit jaarliks met soveel as 25%, wat aansienlik meer is as inflasie. Volgens die SDLU is die gemiddelde winsmarge van landbou volgens Statistiek SA slegs 9%.
“Arbeidskoste van ‘n landbouer is 35% van sy begroting. Verpakkingskoste is die tweede-grootste koste en gaan natuurlik ook skerp styg indien lone verdubbel word,” sê die SDLU. Hulle is van mening dat die huidige regering tans nie ‘n landbouvriendelike omgewing skep met al die voorgestelde nuwe wette nie. Hulle waarsku dat ‘n verdubbeling in die loonrekening ‘n aflegging van ten minste 200 000 werkers teweeg sal bring in die volgende 12 maande. Die dokument noem dat sedert die vorige loonverhoging in Maart vanjaar, 125 000 plaaswerkers hul werk volgens Statistiek SA verloor het.
Wat stel die SDLU voor?
Ten opsigte van loonverhogings stel die SDLU voor dat minimum lone by die bepalings van die CPIX (prysindeks) bly. Verder moet werkers hul eie lone met die werkgewer onderhandel. Die SDLU vra dat stukwerk dringend teruggebring moet word, asook die gebruik van tydelike of korttermyn kontrakwerkers. Die SDLU vra ook ondermeer dat belastings op landbou-hulpmiddelle opgehef moet word en dat belasting op ingevoerde voedsel verhoog moet word om ‘n klimaat te skep waar plaaslike produkte voorkeur sal geniet. Hulle vra ook dat die regering die landbousektor moet begin subsidieer, soos wat die geval is met die motorindustrie en ander industrieë.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
