ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Christo Markram, projekbestuurder van die siviele kontrakteur Rubicon Civils, staan by die slyk droogbeddings van die nuwe rioolaanleg. Die siviele werk aan die nuwe rioolaanleg is al gevorderd.

Nuwe rioolaanleg dalk teen middel 2013 klaar

 

News  Date: 14 December 2012

 

Nie alleen is die tweede rioolaanleg van Makhado (Louis Trichardt) se betonwerke indrukwekkend nie, maar die ingenieurs het ook sodanig bespaar dat hulle ekstra werk in hul begroting kon inpas. 

“Ons is hoofsaaklik nog besig met afwerking,” het mnr. Christo Markram, projekbestuurder van die siviele kontrakteur Rubicon Civils, op 6 Desember gesê.  Die inlaatwerke en die balanseertenk is grootliks voltooi, met die biologiese reaktor, twee sekondêre besinktenks (suiweringstenks)  en slykdroogbeddings in ‘n gevorderde stadium. Die bouwerk aan die beheerkamer asook die kantore is voltooi. Die elektriese en meganiese werk moet nog gedoen word. Die siviele werk en die werk op die terrein behoort teen middel April volgende jaar afgehandel te wees.

Volgens mnr. Connie Vlok, terreiningenieur van die raadgewende ingenieurs WorleyParsons, is die standaard van die betonwerke van uitstaande gehalte as gevolg van die metode van konstruksie. Die probleme by die industriële pompstasie in die dorp se nywerheidsgebied het die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) genoop om die ingenieurs te vra of hulle ‘n direkte pyplyn vanaf die industriële area kan aanlê onder die begroting van die rioolaanleg.

“Ons het besluit  om ‘n pyplyn aan te lê om die uitvalriool vanaf die industriële area na die aanleg te neem en ook ‘n ekstra stuk interne pad binne die rioolaanleg te bou. Dit kon ons doen  deur middel van besparing op sommige items en deur toestemming by Vhembe te verkry om die gebeurlikheidsbegroting te gebruik,” sê Vlok.

AfriForum se plaaslike voorsitter, mnr. Wally Schultz, het gesê  dat hy baie beïndruk is met die nuwe rioolaanleg. Hy het die vraag gestel hoe dié hoogs tegnologiese ontwikkeling bestuur gaan word. Vlok het geantwoord dat die maatskappy van Alberton wat vir die meganiese en elektriese gedeeltes verantwoordelik is, ‘n kundige gaan hê wat vir ses maande op die terrein gaan agterbly om personeel op te lei.

“Dié bedryfspersoneel wat opgelei moet word, sal deur die munisipaliteit geïdentifiseer word. Die maatskappy wat die opleiding gaan doen, is spesialiste op hulle gebied en ons het al voorheen saam met hulle gewerk,” het Vlok gesê en bygevoeg dat die oorhandiging teen Mei of Junie volgende jaar kan wees.

Die nuwe rioolaanleg kan 5 megaliter riool hanteer, maar is so ontwerp dat daar klaar vir toekomstige uitbreiding voorsiening gemaak is. “Die volle infrastruktuur is daar sodat daar maklik opgegradeer kan word,” het Vlok gesê. Met die byvoeging van nog vier besinktenks sal die kapasiteit  kan verdubbel tot 10 megaliter.

Die plan is om in die toekoms met die meeste klein pompstasies in die dorp weg te doen en een nuwe pompstasie by die Kutama/Sinthumule maksimumgevangenis te hê. Die nuwe pompstasie by die tronk en die hantering van die uitvalriool by Eltivillas val onder ‘n nuwe begroting en moet nog goedgekeur word.

Maar sal die nuwe rioolaanleg die dorp se rioolprobleme heeltemal oplos? Vlok sê dat dit sal afhang van die dorp se interne rioolstelsel.

“Die VDM is verantwoordelik vir die grootmaat verpreiding en dan is die Makhado Munisipaliteit verantwoordelik vir die interne retikulering. Die interne probleme binne die dorp moet uitgesorteer word,” het Vlok gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines