ADVERTISEMENT:

 

geneiric image

Pleks van ‘n dag is inwoners toe sommer dae lank sonder water

 

News  Date: 14 December 2012

 

Inwoners van Makhado (Louis Trichardt) het groot frustrasie beleef toe die onderbreking in watertoevoer van Vrydag nie net een dag geduur het nie, maar in sommige gevalle ses dae.

“Dis belaglik! Ons kan nie toilette spoel of skottelgoed was nie. ‘n Ou is nou al moeg hiervoor,” het ‘n inwoner van Joubertstraat hierdie week Maandag gesê. Selfs diegene met watertenks se tenks het in sommige gevalle drooggeloop. Dié wat nog water in die tenks gehad het, het gedeel met ander. As die hekklokkie lui, was daar iemand met ‘n emmer in die hand of op die kop.  

Almal vra egter dieselfde vraag: Waarom sê die water gaan Vrydag van 06:00 tot 18:00 af wees en dan is dit vir dae af? Teen Dinsdagmiddag is daar, na vele probeerslae oor twee dae, ‘n antwoord vanaf die  Vhembe Distriksmunisipaliteit ontvang.

“Die kontrakteur wat die lekke op die ontboste Albasini pyplyn op Vrydag (7de) moes regmaak, het gedink dat dit twee ure sou neem, maar dit het die hele dag geneem. Die vorige dag was die water af omdat lugkleppe by die Albasinidam stukkend was en daardie dag herstel is,” het mnr. Frederick Tshivhengwa, Vhembe se tegniese bestuurder, gesê. Die res van sy telefoniese verslag was ietwat onrusbarend.

Tshivhengwa het gesê dat die groot pomp by die Albasindam se watersuiweringswerke buite werking was en steeds is. “Die herstelwerk aan die groot pomp is steeds aan die gang en ons kan nog nie vandag met sekerheid sê wanneer dit klaar sal wees nie. Intussen word water aan die dorp voorsien deur die twee kleiner bystandspompe. Dit is waarom die waterdruk so laag is. Nie een van die 14 boorgate wat die watertoevoer moet vergroot, is in werking nie, as gevolg van die diefstalle by die boorgate se pompe,” het Tshivhengwa gesê.

Planne vir sekuriteit by daardie boorgate vorder. ‘n Maatskappy gaan al die boorgattoerusting in sementkaste verseël en ‘n sekuriteitswag sal dadelik ontplooi word. Tshivhengwa het gesê dat alhoewel die aangepaste begroting nog nie goedgekeur is nie, dit ‘n noodgeval is en herstelwerk en beveiliging gedoen sal word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines