

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 December 2012
Die man wat tans gevangenisstraf uitdien omdat hy sy stiefdogter seksueel misbruik het, meen hy moet borg kry want die gevangenis gee nie gehoor aan sy “spesiale behoeftes” nie.
Die 36-jarige man het Maandag in die Louis Trichardt Streekhof verskeie mediese redes aan die hof voorgehou oor hoekom hy op borg vrygelaat moet word. Hy het onder andere aangevoer dat hy allergies is vir die tronk se beddegoed, voorskrif-brille en ’n kniegoperasie nodig het, asook ’n streng soutlose dieet moet volg. Volgens die man gee die gevangenisdiens nie gehoor aan dié behoeftes van hom nie.
Die man, wat reeds 17 maande van sy 85-jaar-lange gevangenisstraf uitgedien het, het in Februarie vanjaar toestemming vanaf die Hooggeregshof gekry om te appelleer teen beide sy skuldigbevinding én vonnis.
In sy petisie-aansoek het die man aangevoer dat die Staat sy grondwetlike regte geskend het. Hy voer aan dat die Staat bewyse en getuienis, dat hy nie die gesiglose man op die seksfoto’s met die dogter is nie, geïgnoreer het. Die man het verwys na sy sluitingsargument in sy verhoor toe hy op ’n in loco inspeksie aangedring het om te bewys dat dit nie sy geslagsdeel op die seksfoto’s is nie. Hy dring nou aan op die opinie van ’n mediese deskundige.
Verder het die man aangevoer dat die getuienis van die meisie ongrondwetlik in die hof gebruik is. Die meisie het destyds in 'n geslote hof getuig, sonder die hulp van ’n tussenganger.
Die man het ook gesê dat die Staat nie bo redelike twyfel verkragting op die foto’s bewys het nie. Volgens hom kan van die dade op die foto’s eerder as seksuele skending beskryf word. Hy het verwys na twee foto’s waar hy sy geslagsdeel teenaan die meisie se geslagsdele druk. Die hof het destyds bevind dat die dade op dié foto’s verkragting is.
Tydens uitspraak het die hof egter bevind dat die man nie uitsonderlike redes aangevoer het vir sy borgaansoek nie en beveel dat hy in aanhouding moet bly tot sy appélsaak voorkom.
Landdros Pieter Kellerman het die Staat gelyk gegee en gesê die redes wat die man aangevoer het, het nie veel verskil van die van ander gevangenes nie. Hy het ook gesê dat die man nie ‘n opinie kan uitspreek oor wie se geslagsdeel op die foto is nie, want die selfoonfoto's is van 'n te lae kwaliteit om enige unieke merke of letsels te kan uitken.
Kellerman het gesê dat hy van mening is dat ’n hoër hof dalk die man se skuldigbevinding en vonnis mag verander, maar dat sy straf steeds direkte gevangenisstraf sal bly. Hy het ook gesê dat dit nie in die belang van reg en geregtigheid sal wees as die man nou op borg vrygelaat word nie, juis weens die erns van die klagte teen hom.
“Hy moet in aanhouding bly en sy straf uitdien,” het Kellerman gesê.
Intussen moet daar nog ’n datum deur die Appélhof vasgestel word vir die man se aansoek.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
