ADVERTISEMENT:

 

Die Voortrekkervlag word gehys deur lede van die Generaal Piet Joubert Voortrekkerkommando tydens die Geloftefeesviering op Schoemandsdal by Makhado (Louis Trichardt). Van links na regs is Riana Otto, Ferdi Vorster en voorsitter van die feeskomitee, Abrie Wepener.

Derde deel van Gelofte moet in stand gehou word

 

News  Date: 20 December 2012

 

By die Slag van Bloedrivier is ‘n volk onlosmaaklik aan sy Hemelse Skepper verbind. Die hoofdoel van elke aanbieding tydens Geloftefees moet wees om die eer van daardie oorwinning net aan Hom te gee.

Die belangrike nakoming van ook dié derde deel van die Bloedrivier Gelofte is sterk beklemtoon in die feesrede by die Schoemansdal Geloftefeesviering die afgelope naweek.

Die feesrede is gelewer deur Leon du Plessis en hy het gesê die 464 man teen ‘n  oormag van duisende by Bloedrivier was nie ‘n  unieke situasie nie en die veldslag nie noodwendig meer indrukwekkend as sommige ander beroemde veldslae nie.

In die slag van Thermopylae, 480 VC, het ‘n skamele 300 Spartane onder Leonides en 1 100 ander Griekse soldate  te staan gekom teen Xerxes 1 van Persië se 300 000 bloeddorstige opgeleide soldate, waarvan 21 000 sou sneuwel voordat die Spartane en hul Griekse makkers almal sterf. Hy sê die Spartane het egter op hul militêre vernuf staatgemaak.

In Rigters 6 en 7 durf Gideon met 300 manskappe, sonder swaard, met net ‘n ramshoring en leë kruike met ‘n brandende fakkel daarin, ontelbare Midianiete aan, met die kreet: “Vir die Here en vir Gideon.”  In verwarring veg die Midianiete teen mekaar. God skenk die oorwinning in die geveg aan die Gideonsbende, omdat hulle op Hom vertrou.

Met die slag van Isandlwana in Januarie 1879 vat 1 600 troepe van die Britse 24ste regiment, met hul militêre mag, puik gewere en roemryke geskiedenis nagenoeg 24 000 Zoeloe krygers aan. Altesaam 1 271 van die Britse krygers sterf en talle is gewond. Dieselfde Zoeloemag van Bloedrivier verslaan die briljante Britse troepemag vernederend.

Du Plessis sê nóg die Gideonsbende nóg die 464 manne by Bloedrivier kan roem op militêre prestasies. Hy sê die wonderwerke wat die Skepper ook by Bloedrivier laat afspeel het, moet deur ‘n dankbare nageslag  gedenk word en die roem en die eer van die oorwinning moet altyd aan Hom  geskenk word.

“Gideon en Andries Pretorius het absoluut op God vertrou en word gered. Leonides en genl. Chelmsford by Isandlwana vertrou op hul eie militêre vermoë met die dood as gevolg.

“Moet nie na getalle en eie vermoëns soek in die oplossing van probleme wat ons nou ervaar – ook in eie persoonlike lewe nie. Mag u altyd soos Josua uitroep: ‘Ek en my gesin sal die Here dien’, dan sal geen aanslag u kan oorwin nie,” het Du Plessis gesê.

Hy sê twee van die drie dele van die gelofte van 1838 word nagekom met die viering van Geloftefeeste en kerkgeboue wat tot God se eer opgerig is.

“Die derde deel van die Gelofte is dat ons die wonderbaarlike gebeure aan ons kinders en ons nageslag sal vertel dat hulle met ons daarin sal deel en dat  ons die eer van die oorwinning net aan Hom sal gee,” het Du Plessis gesê. Hy het daarop gewys dat die wydingsbinding en die waarskuwing teen die verbreking van 'n gelofte op verskeie plekke in die Bybel voorkom.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines