ADVERTISEMENT:

 

Namens die plaaslike gemeenskap en die plaaslike Voortrekkerkommando is ´n krans op die graf van Voortekkerleier Andries Hendrik Potgieter in die begraafplaas op Schoemansdal gelê, tydens die afgelope naweek se Geloftefeesviering. In die foto is van regs na links Riana Otto en die Lordan-egpaar.

Sinvolle versoening begin by God en dan tussen mense

 

News  Date: 20 December 2012

 

Sinvolle versoening begin by ‘n vertikale versoening tussen mens en God, voordat dit ook sinvol horisontaal tussen mens en mens kan gedy. Die Gelofte-inhoud van 16 Desember sal dus in Suid-Afrika altyd sinvol bly voortbestaan, ongeag amptelike naamsveranderinge van dié betrokke openbare vakansiedag, sê ds. Gert Kruger.

Ds. Kruger van die APK-gemeente in Makhado (Louis Trichardt) het die erediens tydens die Geloftefeesviering by die Schoemansdalfeesterrein Sondag op Versoeningsdag behartig. Sy teksvers was Eksodus 14:14, waarin Moses die Israeliete bemoedig in hul benoude oorlewingskrisis voor die Rooi See, tydens hul uittog uit Egipte. Die weerlose, angsbevange volk was verplig om in stille verootmoediging ten volle op God te vertrou vir ‘n wonderbaarlike redding en verlossing uit die hand van ‘n vyandige, aanstormende, gewapende oormag.

Die Voortrekkers se Gelofte van 1838 het vooraf die uitslag en die eer vir die beslissende oorlewingsveldslag teen ‘n oorweldigende oormag by Bloedrivier, ten volle aan God toegewy. Die wonderbaarlike uitslag van dié bloedige botsing, word nie gevier as ‘n menslike oorwinning nie, maar as dankbare eerbetoon aan ‘n genadige, almagtige God wat teen alle menslike verwagtinge in, dié wat op Hom vertrou selfs uit die grootste denkbare nood kan verlos.

Hy het gewaarsku teen die onverskillige wyse waarop mense geneig is om geloftes te verwaarloos, wat aanvanklik met groot erns afgelê is.

Die Geloftefees by Schoemansdal is weereens gekenmerk deur ‘n vol feeslokaal, met heelwat jongmense en kinders onder die feesgangers.

Die feesrede is deur mnr.  Leon du Plessis gelewer. Voortrekkers van die Generaal Piet Joubert Voortrekkerkommando het ‘n vlaghysingseremonie behartig. Die geskrewe Gelofte is deur perderuiters op die feesterrein oorhandig. Feesgangers kon as deel van die verrigtinge deelneem aan kransleggings by grafte in die historiese begraafplaas langs die feeslokaal.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines