

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 December 2012
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het tydens hul jaareindfunksie op 7 Desember ekonoom Mike Schussler se onlangse woorde beaam dat Suid-Afrika nie meer hul munisipaliteite kan bekostig nie vanweë munisipale kostes wat buite beheer geraak het.
Me. Inga Gilfillan, SBBV voorsitter, het uit die nasionale tesourieverslag en Schussler se interpretasie daarvan aangehaal en gesê dat huishoudings en klein ondernemings eenvoudig nie meer hul munisipale dienste kan bekostig nie. Volgens die tesourieverslag beoog munisipaliteite om in die huidige boekjaar 18.8% meer van die verbruiker in te vorder as in die vorige boekjaar. Dit is drie maal die huidige inflasiekoers.
“Belastingbetalers word gemelk deur ‘n styging van 10.3 % in eiendomsbelasting, 17 % in dienste vir water en ligte en 24.6% in ‘ander eie inkomste’. Personeeluitgawes styg met 17.3%. Munisipaliteite begroot vir ‘n toename van 51.8% in slegte verbruikerskuld. ’n Samevatting van die begrotings van die 278 plaaslike owerhede wys dat munisipaliteite se slegte skuld op R50 miljard staan . Die Makhado Munisipaliteit se uitstaande skuld is R222m, waarvan R5.2m deur die SBBV in terme van ‘n wettige dispuut teruggehou word,” het Gilfillan gesê.
Die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU) is tans besig met verskeie hofsake namens belastingbetalers. Gilfillan het verslag gedoen oor die Bergriviersaak en die Rademansaak. “Die Bergrivier saak gaan oor die regmatige en korrekte heffing van eiendomsbelasting, ‘n saak wat vir ons van kardinale belang is,” het Gilfillan gesê. Die Rademansaak handel daaroor of die elektrisiteitsvoorsieningswet, wanneer ‘n dispuut verklaar is, voorrang geniet bo die munisipale stelselswet. Die saak gaan deur die Konstitusionele Hof verhoor word.
Gilfillan het ook verskeie probleme vanuit die munisipaliteit se eie aksieplan na aanleiding van die swak 2010/11 ouditeur-generaalsverslag, aangehaal. “Daar is geen beleid en prosedures vir kontantdeposito's by die bank bepaal nie. Oortyd uitbetalings het 30% van die basiese salaris oorskry. Siekteverlof word nie deur die nodige dokumentasie, soos ‘n aansoekvorm en mediese sertifikaat , ondersteun nie. Daar is geen beheermaatreëls by daaglikse en maandelikse aankope en rekonsiliasie van transaksies nie. Die munisipaliteit gebruik verskaffers wat ingeperk is deur die nasionale tesourie. Die IDP toon nie die nodige werkverrigtingteikens (performance targets) nie,” het Gilfillan gesê.
SBBV-lede is gemaan om voor die jaarvergadering volgende jaar te gaan nadink en te heroorweeg of hulle nog steeds die geld wil terughou en nie spandeer op ‘n projek nie, soos wat by die vorige jaarvergadering besluit is. Gilfillan het gesê dat die lede gebuk gaan onder elektrisiteitsafsnydings en dagvaardigingsdreigemente. “Sou ons besluit om meer met die geld te doen, is die administrasie daarvan ook nie so maklik nie. Die gebruik moet eweredig gekrediteer word tussen al die rekeninge,” het Gilfillan gesê.
Die gebruiklike vraag van die rente wat die rekeninge loop, wat hoër is as die rente wat die belegging verdien, het weer opgeduik.
“Sover is elke lid wat verkoop het of ‘n boedelsaak gehad het, se rente afgeskryf met die oorbetaling van die agterstallige geld. Die munisipaliteit het die diskresie om die rente af te skryf,” het Gilfillan geantwoord.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
