

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 December 2012
In Makhado (Louis Trichardt) is inwoners nou al gewoond daaraan om byna sonder water te oorleef, maar het iemand al uitgewerk wat dit inwoners kos om water teen kommersiële pryse aan te koop?
Meer eenvoudig gestel - hoe vergelyk die koste van munisipale water met dié van gesuiwerde gebottelde water?
'n Vergelyking is gedoen ten opsigte van die gemiddelde verkooppryse van water per liter, alhoewel plaaslike handelaars meen dat faktore soos die suiweringsproses van die water 'n groot rol speel in prysvasstelling. Nog 'n faktor wat die prys beïnvloed is die verpakking. Die plastiekbotteltjies waarin die water verkoop word is, volgens een handelaar, baie duur en nodeloos om te sê sal verbruikers daarby baat vind om eerder te hervul.
Die Zoutpansberger het eerstens gaan kyk na die Makhado Munisipaliteit se waterordonansies. Volgens dié ordonansies word waterpryse bepaal volgens die tipe woning waarin iemand bly.
Privaatwonings, woonstelle, kerke en skole waar waterverbruik individueel gemeet word se eerste 6 kiloliter is gratis. Daarna sal elke kiloliter 'n verbruiker R5,50, of R0.0055 per liter, uit die sak jaag. Na die 25ste kiloliter sal dit die verbruiker 40c meer uitwerk, of dan R5,90 per kiloliter.
Woonstelblokke, waar die verbruik nie individueel gemeet word nie, kry nie gratis water nie. Ondernemings sal dieselfde tarief betaal as huise, maar vanaf die 40ste kiloliter styg die tarief na R7.30 per kiloliter, oftewel R0.0073 per liter.
Hierby moet 'n basiese heffing vir water gevoeg word wat ook wissel, maar rofweg R78 per maand vir 'n gemiddelde huishouding is.
Daar is ook 'n vergelyking gedoen ten opsigte van die verkooppryse van water in van die groter supermarkte in Makhado (Louis Trichardt) en die verkooppryse per liter as verbruikers net houers laat hervul.
Die drie plaaslike maatskappye wat genader is oor hul hervul-tariewe, se pryse het goed met mekaar vergelyk.
Madi Gra, Spar en Oasis Water vra tussen 'n 90c en 'n R1 per liter om houers te hervul. Dit is wanneer 5 liter-houers en van die kleiner botteltjies water se verkooppryse met mekaar vergelyk word, dat dit duur begin raak. So sal 'n 5 liter-bottel Bené water, teen R17.99, jou heelwat meer uit die sak jaag as Nestlé teen R16.49. Die vergelyking is verlede week deur die koerant gedoen by die plaaslike Checkers en Pick ‘n Pay. Shoprite het in daardie stadium net 500ml botteltjies water verkoop. Spar se 5 liter-houers het teen R9.99 verkoop.
Met ander woorde: Om jou bad met munisipale water vol te maak sal die verbruiker R1.49 kos. Dit is nou inaggenome dat ‘n gemiddelde mens in 270 liter water bad. Dieselfde bad water sal 'n verbruiker R243 uit die sak jaag as hy die bad volmaak met kanne hervulde gebottelde water teen die goedkoopste tarief wat 90c per liter is.
'n Vier-minute-lange hoëdruk stort sal iemand 41c op die munisipale tarief kos en R67.50 as dit gesuiwerde water was. 'n Laedruk stort sal 'n verbruiker onderskeidelik 20c en R33.20 kos.
Die “ekstra” koste van water raak ‘n belangrike faktor as mens die kroniese watertekorte in die dorp in ag neem. Talle inwoners en ondernemings se watertenks het die afgelope naweek drooggeloop.
Eers was daar 'n geskeduleerde afsluiting van die water in Stubbsstraat verlede Donderdag. Derduisende liters water het in die straat afgestroom omdat, so het munisipale werkers op die toneel verduidelik, die sisteem eers leeg moet loop voordat hulle die stukkende klep kon vervang.
Teen Saterdag het meeste inwoners steeds nie water gehad nie. Die rede was glo omdat daar nog twee waterlekke op die Albasini-pyplyn ontdek is, wat eers reggemaak moes word. Die lekke is ontdek tydens die verpligte ontbossing wat die Vhembe Munisipaliteit op dié lyn moet doen.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
