

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 August 2002
POLOKWANE – Inwoners van dié stad is erg ontstoke nadat 'n beeldjie ter gedagtenis aan onbekende kinderhelde, veral die wat hul lewens opgeoffer het gedurende die Suid-Afrikaanse Vryheidstryd, met geweld vanaf sy staanplek in die Konsentrasiekampkerkhof verwyder en gesteel is.
Fondse vir die maak van die beeldjie is deur die Pietersburg-Doornkraal Geloftefeesgangers ingesamel en op 16 Desember 1993 het dr. Willie en mev. Ceciel Snyman die beeldjie in die Konsentrasiekampkerkhof onthul. Die beeldjie is egter op 12 Mei vanjaar herplaas in 'n sinvolle monument wat vir die doel ontwerp is. Die Moolman-groep van Maatskappye het die fondse vir hierdie monument, asook vir die verskuiwing van die Onbekende Kinderheldbeeldjie, voorsien. Dit het daartoe gelei dat die Konsentrasiekampkerkhof in 'n toenemende mate as toerisme-aantreklikheid bemark kon word en tientalle buitelanders en vakansiegangers het dit dan ook reeds gedurende die afgelope maande besoek.
Die begraafplaas word deur die plaaslike munisipaliteit bestuur. Ex Officio is die munisipaliteit dan ook die beskermheer van die gedenktekens wat daar opgerig is, waaronder die betrokke beeldjie. Op Woensdag, 24 Julie is daar opgemerk dat die beeldjie weg is. Dit is met geweld vanaf die voetstuk losgebreek. 'n Saak van diefstal is intussen by die SAPD aanhangig gemaak en 'n ondersoek is reeds aan die gang.

ADVERTISEMENT:
