

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Speaker van die Makhado Munisipaliteit, rdl. Joan Hoorzuk, het die afgelope week heftig gereageer op die aantygings wat teen haar gemaak word deur rdl. Marie Helm van die Demokratiese Alliansie.
In verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger het daar 'n artikel verskyn waarin rdl. Helm die Speaker beskuldig van partydigheid. Dit volg nadat rdl. Helm 'n skrywe van die Speaker ontvang het wat haar in kennis stel dat sy die Raad se Gedragskode verbreek het deur ongemagtigde inligting bekend te maak, sonder die Raad se goedkeuring. Die inligting het verband gehou met die R110 000 bonus wat aan die Munisipale Bestuurder betaal is.
Rdl. Hoorzuk het dit beaam dat sy dit as 'n klap in die gesig beskou dat sy van partydigheid beskuldig word. Sy sê sy tree dieselfde op teenoor alle raadslede, ongeag watter politieke party hulle aan behoort.
"Ek beskou rdl. Helm se uitlatings in die pers as goedkoop politiek," het rdl. Hoorzuk gesê. Sy het verder genoem dat rdl. Helm baie vinnig is om uitlatings te maak ten opsigte van wat in die Raad gebeur, deur die idee te skep dat besluitneming agter geslote deure plaasvind. Rdl Hoorzuk sê dat rdl. Helm moet onthou dat sy in baie gevalle deel vorm van die komitees wat oor raadsaangeleenthede moet besluit.
"Waarom bly sy stil tydens komiteevergaderings, net om na die tyd pers toe te hardloop. Sy het mos die kans om haar standpunte te lig," sê rdl. Hoorzuk. Rdl. Hoorzuk het ook uitgebrei oor die kwessie van die skrywe wat aan rdl. Helm gestuur is.
"Sy kies om die brief selektief aan te haal. Ja, daar word wel genoem dat rdl. Helm daarvan beskuldig word dat sy die Gedragskode oortree het, maar in dieselfde brief word rdl. Helm versoek om met my te kom praat voor 30 Julie om te verduidelik waarom dié klagtes nie verder ondersoek moet word nie. Tot vandag toe het sy nog geen moeite gedoen om met my te kom praat nie. Die eerste woord wat ek oor die aangeleentheid van haar ontvang, is deur die media. Dit werk mos nie so nie," het rdl. Hoorzuk opgemerk. Sy het rdl. Helm uitgenooi om haar te kom sien, sodat hulle soos professionele mense probleme kan uitsorteer.

ADVERTISEMENT:
