

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 August 2002
LOUIS TRICHARDT – Grond vir die oprigting van 'n aftree-oord gaan gratis beskikbaar gestel word deur die plaaslike tak van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) en ontwikkelaars word genooi om met die tak in verbinding te tree.
Die besluit is geneem tydens 'n vergadering van die SAVF op 29 Julie by die Gister se Jeug Dienssentrum. Mev. Susan Otto, SAVF voorsitter, het gesê dat die behoefte aan 'n aftree-oord reeds 'n geruime tyd gelede geïdentifiseer is. Dit is weer beklemtoon tydens die afskeid van mnr. en mev. Wollie en Sylvia Wolmarans wat hulle spyt uitgespreek het dat hulle die dorp gaan verlaat weens die afwesigheid van 'n aftree-oord in Louis Trichardt. Hulle het genoem dat dit soveel beter sou wees as die dorp sy eie mense hier kon behou.
Op die eersvolgende SAVF vergadering is die saak uitvoerig bespreek en finaliteit is bereik op die pasafgelope vergadering.
"Ons nooi ontwikkelaars uit om van die gratis grond-aanbod gebruik te maak en vir Louis Trichardt 'n eie aftree-oord op te rig," sê mev. Otto.
Die stuk grond wat die SAVF skenk vir 'n aftree-oord, lê aangrensend aan die gholfbaan en Dienssentrum in Kutersingel. Die grond is in 1994 deur die Munisipale Raad aan die SAVF toegeken met die uitsluitlike doel om dit vir bejaarde sorg aan te wend.
Ontwikkelaars kan Susan skakel by tel. 082 781 0343.

ADVERTISEMENT:
