ADVERTISEMENT:

 

‘n Nederlander, mnr. Gijs Stevers (links), se 22 000 kilometer reis ter wille van herwinbare energie het hom op 19 Desember by die Lalapanzi Hotel uitgebring. Hier verskyn hy saam met me. Inga Gilfillan van die hotel. Foto verskaf.

Nederlander op epiese tog van die Kaap tot die Kaap

 

News  Date: 09 January 2013

 

‘n Nederlander wat 22 000 kilometer ver fietsry ter wille van herwinbare energie het op 19 Desember sy epiese tog voortgesit vanaf Makhado (Louis Trichardt) na Polokwane.

Gijs Stevers (25) se reis op sy elektriese fiets het op 12 April verlede jaar vanaf die Noordkaap in Noorweë begin en hy is op pad na die Kaap van Goeie Hoop in Suid-Afrika. Hy noem sy rit “Cape to Cape 2012.”

“Tydens hierdie 22 000 km rit wil ek graag ondersoek instel oor hoe ons toekoms met herwinbare energie daar sal uitsien. Langs die pad ontmoet ek mense wat met herwinbare energie werk en ek skryf oor hulle. Ek gee ook bewusmakingsklasse oor die onderwerp by skole,” het Stevers gesê tydens ‘n besoek aan die Lalapanzi Hotel. 

“Hier by Lalapanzi het Gijs ‘n bietjie ontspan en ‘n koeldrank geniet. Hy het ook die Bushveldt Carbineer-museum besoek en is ingelig oor die betrokkenheid en bydrae  van die Nederlandse onderwysers tydens die Anglo Boere-oorlog. Ons onderskryf graag sy filosofie van herwinbare energie,” het me. Inga Gilfillan van Lalapanzi gesê.

Stevers ry deur twee vastelande om meer uit te vind oor hoe herwinbare energie in Europa en Afrika gebruik word. Hy meen dat herwinbare energie van die grootste belang vir die mensdom in die toekoms gaan wees.

Stevers se elektriese fiets werk met herlaaibare batterye.

“Dit neem rofweg drie ure om die batterye te herlaai en ek herlaai dit normaalweg wanneer ek by mense oorslaap. Ek is ook ten volle toegerus om te kampeer. Wanneer ek kampeer, herlaai ek die batterye terwyl ek swem of by die restaurant eet of terwyl ek werkswinkels aanbied,” sê Stevers.

Die elektriese fiets is verskaf deur sy hoofborg, Gazelle.  Daar is ook kleiner borge, maar die meeste onkostes dra hy self. Hy het die geld met sy studentewerk verdien, terwyl hy vir sy meestersgraad in omgewingsekonomie gestudeer het.  Na sy fietsavontuur wil hy graag sy eie maatskappy, wat met herwinbare energie werk, stig.

Stevers het gesê dat hy hoop om oor ‘n bietjie meer as ‘n maand in die Kaap aan te kom.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines