

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 January 2013
Die Makhado Munisipaliteit se versuim om hul maandelikse rekeningstate vir Desember uit te stuur het inwoners in die duister oor wat presies aan die gang is.
Die Zoutpansberger het talle navrae in dié verband ontvang en dit blyk dat die vertraging in die uitstuur van die rekeningstate toegeskryf kan word aan die munisipaliteit se onlangse aankondiging dat hulle vanaf Desember die rekeninge in ‘n nuwe formaat gaan uitstuur.
In die Zoutpansberger van 14 Desember het die munisipaliteit in ‘n openbare kennisgewing geadverteer dat inwoners voortaan twee rekeningstate instede van net een sal ontvang.
In terme van die nuwe formaat sal waterverbruik en rioolheffings nou betaalbaar wees aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit, terwyl erfbelasting, vullisverwydering en elektrisiteitsverbruik aan die Makhado Munisipaliteit verskuldig sal wees.
Dié kennisgewing het egter baie verwarring veroorsaak, veral omdat inwoners nog nie state ontvang het nie waarop aangedui word in watter rekeninge die twee bedrae inbetaal moet word nie.
Die munisipaliteit is genader vir ‘n verduideliking. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is spesifiek gevra wat die rede agter die besluit was om twee rekeninge uit te stuur. Hy wou hom nie hieroor uitlaat nie. Hy kon ook nie bevestig of inwoners beboet sal word indien hulle laat betaal nie.
Volgens Bobodi hoef inwoners nie in beide munisipaliteite se rye te gaan staan om hul rekeninge te betaal nie. Inwoners kan altwee rekeninge nog steeds by die Makhado Munisipaliteit vereffen of, as hulle so verkies, dit afsonderlik in elke munisipaliteit se bankrekening deponeer. Dié betalings kan ook elektronies gedoen word.
Die bankrekeningbesonderhede vir die Makhado Munisipaliteit is Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 62308329988 en takkode 260 149. Vhembe Distriksmunisipaliteit se besonderhede is Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 62387689668 en takkode 260 549.
Indien ‘n kliënt sy rekening elektronies betaal, moet die twee rekeninge apart betaal word. Die verwysingnommer sal die twee rekeningnommers wees.
Bobodi het om verskoning gevra vir die state wat laat uitgestuur is en die verwarring wat dit veroorsaak het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
