

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 January 2013
Inwoners van Levubu het ‘n “nare” ondervinding gehad toe hulle besluit het om die biertuin by die Makhado Munisipaliteit vir ‘n funksie te huur.
Nie alleen het die toestand van dié fasiliteit op die munisipale skouterrein hulle amper naar gemaak nie, maar vir meer as vier maande het hulle gesukkel om hul deposito van oor die R700 van die munisipaliteit terug te kry.
“Met die aankoms by die biertuin die middag was daar geen krag of water nie en die toilette was verstop en het heeltemal oorspoel. Die vloere was nat en die stank ondraaglik. Die krane was afgebreek en die meeste toilette het nie sitplekke gehad nie. Dit was 16:00 en te laat om die funksie te kanselleer. Daar het ook mense van Pretoria gekom,” sê me. Elize Venter, wat in Augustus verlede jaar die biertuin vir haar dogter se 21ste verjaarsdagviering gehuur het.
Nog ‘n krisis was die veiligheidsrisiko wat die oop elektrisiteitsdistribusiekas ingehou het, veral vir die klein kindertjies wat oral rondgehardloop het.
“Die braairoosters was halfpad afgebreek en die baksteenmuur om die braaier was gebreek,” sê Venter, wat maar moes inspring en die plek so leefbaar as moontlik maak.
Die betaling vir die huur van die biersaal was R1092.15 waarvan R350 die koste van die verhuring was, met ‘n deposito van R742.15. Teen 10 Desember was Venter al moedeloos gesukkel om die deposito van die Stadsraad terug te kry.
“Ek kon glad nie met die hoofde van die departemente praat nie, want hulle is permanent in vergaderings. Die ander personeel gooi die telefoon in jou oor neer as hulle nie weet wat om te sê nie. Niemand kan jou terugbel nie, want hulle voer die verskoning aan dat hulle net R300 lugtyd ‘n maand kry,” sê Venter.
Uiteindelik het mnr. Chris Matomba van dié afdeling vir Venter gesê dat haar naam op die stelsel is en dat die uitbetaling reeds op 24 Oktober gemaak is. Dit het egter nie op Venter se bankstaat verskyn nie. Me. Asnat Malema moes die betaling nagaan om te kyk in watter rekening die bedrag inbetaal is.
“Sy het vir my gesê dat sy nie tyd het om te soek nie en dat ek moet wag tot ek aan die beurt kom. Sy het gesê dat sy my nie kan skakel nie, maar dat ek haar moet skakel. Ek het elke liewe dag geskakel. Ek het dit al oorweeg om na die hof vir klein eise te gaan. Net voor Kersfees was daar egter vir my ‘n Kersgeskenk op my bankstaat: my deposito, uiteindelik!” vertel Venter.
Venter sê dat sy graag mense wil waarsku om nie sommer die biertuin te huur nie.
“Ek het foto’s op my dogter se kamera gehad, maar sy het gevra of sy dit asseblief kan afvee, omdat dit haar so naar maak,” het Venter gesê.
Hierdie week is foto’s by die fasiliteit geneem en die elektrisiteitsdistribusiekas was steeds oop en die toilette steeds sonder sitplekke. Die plek het verwaarloos voorgekom.
Vrae in verband met die fasiliteit se toestand en die sloer met die terugbetaling van deposito’s is aan die Stadsraad gestel. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het teen druktyd gesê dat hy nog vir inligting wag voordat hy al die vrae kan beantwoord.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
