

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 January 2013
Vrae oor die haglike toestand van die munisipale stortingsterrein buite Makhado (Louis Trichardt) kon hierdie week nie deur die Makhado Munisipaliteit beantwoord word nie.
Talle inwoners het die afgelope week by die Zoutpansberger kom aanklop met klagtes oor dié stortingsterrein op die Vondelingpad. Die stortingsterrein was so tot oorlopens toe vol dat talle nie kanse wou waag om in te ry nie en het begin om hul vullis sommer langs die toegangspaaie te stort.
Die Zoutpansberger het Dinsdagoggend die stortingsterrein besoek en dit was duidelik dat die munisipaliteit ooglopend verskeie van hul permitvoorwaardes verbreek wat betref die bestuur en beheer van die stortingsterrein.
Volgens die permitvoorwaardes, wat ingevolge die Wet op Omgewingsbewaring van 1997 aan die Makhado Munisipaliteit toegeken is, is die munisipaliteit verplig om ‘n buffersone van 400m om die terrein te handhaaf. Dit is ooglopend nie die geval nie, met vullis wat tot teenaan die heiningdrade om die terrein gestort word. Die permit vereis ook dat die toegangspad na die terrein gangbaar en sonder enige vullis moet wees, wat ook nie die geval was nie. Verder moet vullis daagliks ook met ten minste 150mm grond toegestoot word en vullishope mag nie hoër as 1,5m wees nie. Beide laasgenoemde twee permitvoorwaardes word ooglopend ook nie nagekom nie.
Die Zoutpansberger het Dinsdag navrae oor die administrasie en beheer van die stortingsterrein aan beide die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, en die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, gerig. In die navrae is daar spesifiek melding gemaak van die ooglopende oortredings van die permitvoorwaardes.
Teen druktyd is daar steeds op antwoorde vanaf die munisipaliteit gewag, aangesien hulle nog skynbaar gewag het vir ‘n ondersoekverslag. Mutshinyali het Dinsdag aan die koerant gesê dat so 'n ondersoekverslag gewoonlik twee dae duur om saam te stel. “Julle sal nie hierdie week ‘n antwoord kry nie,” het hy gesê.
Die permitverskaffer, die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme, is ook genader en gevra wanneer hulle laas inspeksie gedoen het by die terrein om seker te maak dat die munisipaliteit hul permitvoorwaardes nakom. Teen druktyd was daar ook steeds geen antwoord van hulle af nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
