

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 July 2002
LOUIS TRICHARDT - Opgradering van die N1 tussen Louis Trichardt en Musina vorder fluks en in hierdie stadium dui alles daarop dat die beoogde tolplaza net duskant Bokmakierie opgerig gaan word.
Dit het die afgelope week aan die lig gekom dat die tolplaza sowat een kilometer suid van die N1/Tshipise-afdraai, op die plaas Antrobus van mnre. Gideon Meiring (Gedeelte 1) en Stephen Fick (Gedeelte 2) opgerig word. Dit sal bekend staan as die Baobab Tolplaza met 'n sterk Bosveld-tema. Vier Kremetartbome, wat vanweë die opgradering van die pad elders uitgehaal moet word, sal ook teen groot koste by die tolplaza herplant word.
Mnr. Meiring het Woensdag genoem dat verteenwoordigers van die Nasionale Paaie Agentskap (NPA) twee weke gelede met hulle ontmoet het. Tydens dié ontmoeting is hulle meegedeel dat die NPA ook na drie ander moontlike liggings vir die plaza gekyk het. Dit het ondermeer gedeeltes ingesluit by Mutamba, sowat agt kilometer noord van die Waterpoort-afdraai, 'n gedeelte net noord van die N1/Tshipise-afdraai en 'n ander een net buite Musina. Die aanvanklike omgewingsimpakstudie het egter aangedui dat 'n tolplaza op die plaas Antrobus die minste versteuring sal veroorsaak. Mnr. Meiring het verder genoem dat landmeters reeds vroeër die week met opmetings op sy plaas begin het.
Volgens beplanning, beoog die NPA om teen Maart 2003 die gedeelte van die pad vanaf Louis Trichardt tot 20 kilometer voor Musina te voltooi. Daar sal egter gepoog word om die meerderheid padwerke te voltooi voor die sonsverduistering op 4 Desember vanjaar. Die opgradering van die pad sluit onder meer in die aanbring van addisionele padskouers, verbysteeklane en ander veiligheidsmaatreëls wat kan wissel van gedeelte tot gedeelte. Die laaste 20 kilometer tot in Musina bestaan uit 'n projek wat oor 21 maande sal strek en anders as die huidige konstruksie en verleggings, sal daar dubbelbaanverkeer vir motoriste beskikbaar wees.
Die konstruksie aan die pad veroorsaak tans 'n mate van ongerief vir motoriste wat tussen Louis Trichardt en Musina reis. Enkelbaanverkeer is tans op drie gedeeltes van die pad beskikbaar en in feitlik al die gevalle is daar 'n minimum wagperiode van tien minute om voorsiening te maak vir aankomende verkeer. In een geval het 'n motoris vertel dat hy verlede week bykans twee ure na Musina gery het. Motoriste moet dus voorsiening maak ten opsigte van hul reistye.
'n Bron van kommer ten opsigte van die verleggings is egter motoriste wat verkeerstekens ten opsigtevan spoed verontagsaam. Sedert konstruksie begin het was daar reeds verskeie gevalle waar veral vragmotors in stilstaande verkeer by die verlegging vasgejaag het.

ADVERTISEMENT:
