

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 July 2002
ELTIVILLAS – Gewapende rowers het die afgelope week 'n terreurveldtog in Eltivillas gevoer en verskeie inwoners is hul besittings kwyt, nadat hulle by hul wonings oorval is.
Omstreeks 05:30 op Vrydag (19de) is die 50-jarige mev. Versha Dave in haar woning deur 'n gewapende man oorval. Die aanvaller het haar geblinddoek, waarna nog twee mans by hom aangesluit het. Twee ander lede van die familie is ook geblinddoek. Die aanvallers het R700 en 'n selfoon uit mev. Dave se handsak gesteel, waarna hulle 'n skoot in die plafon afgevuur het en op die vlug geslaan het.
Dieselfde dag omstreeks 21:30 is 'n sekurietswag byna doodgeskiet, nadat hy by die Ayobs se woning deur 'n gewapende aanvaller oorrompel is. Gelukkig genoeg kon hy daarin slaag om te ontsnap. In die proses het sy aanvaller 'n skoot op hom afgevuur wat hom rakelings gemis het.
Twee dae later, op Sondag, 21 Julie, is mev. Fatima Ayob by haar woning oorval deur 'n gewapende man. Me. Ayob, asook twee familielede is in 'n kamer gedwing waar die verdagte geld geëis het. Die aanvaller het kort daarna met R500 op die vlug geslaan. Die verdagte is kort daarna in Leeustraat waar dit by die Thohoyandou-pad aansluit, opgemerk. 'n Skietgeveg het tussen hom en die polisie ontstaan, waartydens die verdagte in die been gewond is. Hy het op die vlug geslaan, maar is later met behulp van die soekhonde vasgetrek en gearresteer.

ADVERTISEMENT:
