

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 July 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Verligte kruis, sigbaar vir die hele dorp en vir ongeveer twintig kilometer buite die dorp op die N1, sal eersdaags 'n werklikheid wees.
Die kruis sal ongeveer 24 meter hoog en 12 meter breed wees en bestaan uit 'n staalkonstruksie op 'n beton voetstuk en sal met kabels geanker word. Die beligting word gedoen met neon buise agter wit Perspex, 300 tot 400mm wyd, wat waterdig verseël is. Die ongeveer 400mm-wye ligbane behoort saans tot sover as die omgewing van Bandelierkop sigbaar te wees. Bedags sal dit net 'n wit kruis wees.
Die vergadering in verband met die oprigting van die kruis by die N.G. Kerk Soutpansberg op 18 Julie is ondersteun deur lede van verskillende kerklike denominasies. Verskeie sub-komitees is in die lewe geroep. Die visieleier, mnr. Dries Briers, sê dat die gedagte om 'n verligte kruis op te rig, ongeveer twee jaar gelede by hul bybelstudiegroep ontstaan het. Dit het intussen aan die lig gekom dat daar ook al tevore groepe christene was by wie hierdie gedagte posgevat het. Almal gooi nou hulle gewig in by hierdie gesamentlike projek.
'n Lofprysingsfees waartydens die kruis se ligte vir die eerste keer aangeskakel sal word, word beplan vir 5 Oktober. Die program sal die middag begin en daar word beplan om 'n optrede van die bekende Gospelsangeres, Melani, in te sluit. Die idee is om alle christen-groepe, van die jeug tot die senior burgers, te betrek.
Die kruis sal opgerig word op die plot van mnr. Chris de Jager wat grond beskikbaar gestel het met die nodige wetlike beskerming om die staanplek vir altyd daar te verseker. Dit sal sigbaar wees op die koppie regs agter die munisipale water-reservoir, noord van die nuwe uitbreiding.
Die pad na die kruis se staanplek is reeds geskraap, terwyl die uitgrawings vir die sestien kubieke meter betonvoetstuk ook reeds voltooi is. Die materiaal vir die betonvoetstuk en die drie staalpilare met ankerboute is reeds geskenk en die elektrisiënswerk, asook arbeid vir die konstruksie, is reeds voorsien.
Die volgende materiaal word egter nog benodig, naamlik hoekyster (50mm x 50mm x 5mm - 44 lengtes van 6m en 40mm x 40mm x 5mm -22 lengtes van 6m), boute en moere (M16 x 60mm – 400 gegalvaniseerd), plaatyster (60mm x 10mm – 2 lengtes van 6m), verf (wit enamel - 40 liter) en elektriese kabel (kontant bydrae).
Fisiese hulp met die oprigting van die kruis asook hulp voor en tydens die lofpry-singsfees word benodig. Drie tipe donasies kan gemaak word, naamlik donasies ter finansiering van die uitstaande materiaal (ongeveer R35 000 word benodig), donasies ter finansiering van die lofprysingsfees (ongeveer R30 000 word benodig) en donasies en klein aftrekorders vir die maandelikse elektrisiteitsrekening van die kruis. 'n Finansiële komitee behartig die finansiële reëlings en die ondersoek na die geskikte vorm van regspersoon (Artikel 21) wat verantwoordelikheid vir die kruis en instandhouding daarvan sal neem.
Vir meer inligting, skakel Dries Briers (konstruksie) by tel. 083 444 8324, Anneke Stroebel (lofprysingsfees) by (015) 516 2559 of Chris Mattheus (finansiële komitee) by 082 323 3612.
Die komitee bedank die donateurs van toerusting, materiaal en diensteen.

ADVERTISEMENT:
