

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 July 2002
LOUIS TRICHARDT – Lede van die plaaslike nood- en reddingsdienste het sedert die begin van Julie 'n bedrywige maand agter die rug met betrekking tot die hoeveelheid ongelukke wat in en om die dorp plaasgevind het.
Sedert 1 Julie het die plaaslike reddingsdienste by sewentien ongelukstonele hulp verleen. Gelukkig genoeg was baie van dié ongelukke minder ernstig en het slegs een persoon sy lewe in dié tydperk verloor.
Volgens mnr. Nico Theunissen van die plaaslike brandweer, was hulle veral bedrywig die afgelope week, maar weereens was die ongelukke gelukkig genoeg minder ernstig. Hy sê dat die verleggings op die N1 tussen Louis Trichardt en Musina 'n groot bron van kommer is met vier ongelukke wat reeds die afgelope maand daar plaasgevind het. Die mees onlangse een was Dinsdagaand by Masekwaspoort en die bestuurder van 'n klein 1400 bakkie kan baie gelukkig wees om nog te leef.
Mnr. Theunissen vertel dat die bestuurder van die bakkie agter 'n vragmotor by die verkeerslig in die poort gestop het. 'n Tweede vragmotor het skielik teen hoë spoed om die draai by die nou poort ingejaag en die bestuurder van die bakkie het besef dat die vragmotor nie betyds gaan stop nie. Hy het inderhaas uit die pad getrek en oomblikke later het die vragmotor hom rakelings getref. Sou hy nie uit die pad getrek het nie, sê mnr. Theunissen, sou die bakkie tussen die twee vragmotors beland het en sou die bestuurder waarskynlik gesterf het.
Die ongeluk was die tweede een by Masekwaspoort waarin vragmotors betrokke was en volgens mnr. Theunissen het spoed in beide gevalle daartoe aanleiding gegee. Hy het weereens motoriste versoek op versigtig te bestuur op dié seksie van die N1 en om gehoor te gee aan die verkeerstekens, veral met betrekking tot spoed.

ADVERTISEMENT:
