

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Ongerymdhede en vreemde omstandighede kenmerk steeds die hofsaak van die staat teen agt beskuldigdes wat op ‘n padverkeerswetoortreding aangekla is.
Die saak spruit voort uit ‘n vreedsame betoging op 1 April vanjaar teen die onveilige N1 roete oor die bergpas waar swaar vragmotors ook onder andere die dood van twee kinders veroorsaak het. Sowat 400 mense het aan die goedgekeurde protes deelgeneem. Die beskuldigdes is aangekla van ‘n padverkeerswetoortreding.
Terwyl mense van oral in aantog was na die N1/Stubbsstraatkruising, het persone deur die dorp gery om nog simpatiseerders te lok. Hulle het verkeersbegeleiding geniet en was op hul pad terug na die toegewyste area. ‘n Verkeersbeampte het die verkeer gereguleer en niemand het die pad blokkeer nie. Die adjunk-provinsiale kommissaris van die SAPD, kommissaris Charles van Wyk, het egter mense begin arresteer. Hy is later wyd gekritiseer vir sy optrede, onder andere deur die DA en die Voorsittersvereniging, wat ook formeel op 15 Junie beswaar aangeteken het by die Direkteur van Openbare Vervolging, adv. F. de Beer en die nasionale kommissaris van die SAPD, kommissaris Julius Weideman.
Tydens die voorval het ‘n aantal simpatiseerders saam met die gearresteerdes na die Makhado polisiestasie gegaan. Daar is hulle deur ‘n polisiebeampte aangesê om hulle name op ‘n papier te skryf, ‘n opdrag waaraan 10 uit die hele groep gehoor gegee het. Daardie 10 is aanvanklik aangekla van intimidasie van die polisie en belemmering van die verkeer. Die name van die 10 het nie ooreengestem met diegene wat gearresteer is nie. Een van die 10 was ook ‘n minderjarige kind. Die aangeklaagdes het nie borg aanvaar nie en het gesê dat hulle sal verskyn.
Uiteindelik is agt persone aangekla ingevolge die Padverkeerswet en hulle het op Maandag, 6 Desember, weereens verskyn te midde van baie onbeantwoorde vrae.
Die hof het Maandag gehoor dat dit vreemd is dat so ‘n hoë profiel verleen word aan ‘n gewone verkeersoortredingsaak wat ‘n boete van ongeveer R300 verg. Dit is ook vreemd dat ‘n kommissaris van die polisie betrokke is by ‘n mindere verkeersoortredingsaak en dit is ook ongewoon dat ‘n kommissaris van polisie vra dat so ‘n saak hanteer word deur ‘n buite-aanklaer. Ook vreemd is dat ‘n landdros van buite gevra is om die saak te hanteer, terwyl geen plaaslike landdros formeel aan die ondersoek onttrek het nie. Die landdros van buite het nie opgedaag nie.
Die ongerymde prosedure dat ‘n landdros van buite gevra is sonder die medewete van die plaaslike hooflanddros en kantoorhoof, mnr. Sakkie Scheepers, is ook reeds aangespreek in ‘n brief aan die Direkteur van Openbare Vervolging. Die brief is gedateer 2 Desember en is aan die verdediging as openbare dokument beskikbaar gestel. Daar word ook in die brief gevra waarom ‘n buite-aanklaer vir ‘n gewone verkeersoortreding gereël word.
Die brief lui dat die persepsie by die publiek geskep kan word dat daar meer in die klagte steek as wat op die oog af blyk, wat verduidelik behoort te word. Die persepsie word geskep dat daar moontlik druk deur die polisie en/of ondersoekbeamptes op die instansies uitgeoefen word om skuldigbevindings te verkry om enige siviele eise of maatreëls vry te spring.
“Die wyse waarop hierdie aangeleentheid hanteer word, ondermyn die gesag en integriteit van die regspleging in die Soutpansberg Distrik, sowel as my gesag as kantoorhoof,” lui die skrywe, onderteken deur landdros Scheepers.
Mnr. André Naudé, een van die prokureurs vir die verdediging, het in die hof gesê dat hierdie een van die klassieke voorbeelde is waar die publiek teen die magte van die staat beskuldigdes word. Lede van die gemeenskap wat op goedgekeurde basis protes aangeteken het in belang van die gemeenskap word die slagoffers en word as kriminele uitgemaak in die proses.
“Die staat het vir meer as 18 maande nie gereageer op skrywes om die N1 te beveilig nie. Daar het 177 motorbotsings plaasgevind in ‘n tydperk van ‘n jaar oor die hele roete vanaf Bokmakierie tot by die N1/Stubbsstraat kruising.
“Ten spyte van dit alles het die staat nie gehoor gegee nie. Onder geweldige druk van die gemeenskap is uiteindelik ‘n verkeersirkel opgerig. Nou, in hierdie mindere saak, is die staat grootliks betrokke en dit lyk of die staat ten alle koste ‘n skuldigbevinding wil hê, tot groot ongerief van lede van die gemeenskap,” sê hy.
Nog ‘n prokureur vir die verdediging, mnr. Charles Pieterse, het gesê dat die saak oor beuselagtighede gaan en nie eers aangehoor moet word nie.
Me. Stephné van der Westhuizen, wat ses van die beskuldigdes verteenwoordig, het gesê dat die saak uit verband geruk is en dat die staat nie ‘n prima facie saak kan uitmaak om skuldigbevindings te verkry nie.
Tydens Maandag se hofverrigtinge het die staatsaanklaer, mnr. Chris Mapome van Modimolle (Nylstroom) uitstel gevra, terwyl die hof alreeds tevore besluit het dat geen verdere uitstel toegestaan sal word nie. Die verdediging het beswaar aangeteken en die hof het uitstel geweier.
Die voorsittende beampte, landdros Scheepers, het die aanklaer daarop gewys dat die vra van uitstel kan neerkom op minagting van die hof. Die staat het die saak weereens teruggetrek. Die hof het ook ‘n ondersoek na moontlike ongerymdhede aangevra en ‘n skrywe sal gerig word aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, sowel as die Landdroste Kommissie.
Die staatsaanklaer, mnr. Mapome, sal na die ondersoek vanaf die Direkteur van Openbare Vervolging instruksies ontvang of hy met die saak moet voortgaan.
Me. Van der Westhuizen het na afloop van die saak namens die gemeenskap die hoop uitgespreek dat geregtigheid sal geskied en dat daar ‘n regverdige verhoor sal wees indien die staat sou besluit om voort te gaan. Daar word verwag dat beskuldigdes siviele aksies en eise teen onregmatige arrestasies kan instel.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
