ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Raad wil nie historiese skilderye verkoop nie

 

News  Date: 18 January 2013

 

Die Makhado Munisipaliteit gaan nie die kultuurhistoriese skilderye van die skilder C.R. de Wet van Wyk  aan die Van Wyk-afstammelinge verkoop nie.

Die kleinseun van die skilder was teleurgestel en verslae toe hy verneem dat die munisipaliteit nie die skilderye van sy oorlede oupa aan die familie wil verkoop nie. “Dit sal verlore gaan vir die nageslag,” het mnr. De Wet van Wyk hierdie week gesê.

Die vyf olieverf skilderye, wat in opdrag van die destydse Louis Trichardt Stadsraad geskilder is, is meer as ‘n dekade gelede van die mure van die raadsaal verwyder. Sover vasgestel kon word, word die skilderye tans in ‘n kluis geberg.

“Die skilderye is bates van die munisipaliteit en ons is nie van plan om dit te verkoop nie. Ons ondersoek egter nog die moontlikheid om dit aan ‘n nasionale museum oor te dra,” het die munisipaliteit Dinsdag die Zoutpansberger per e-pos laat weet. 

Van Wyk het alreeds in 2005 ‘n aanbod aan die munisipaliteit gemaak om die skilderye terug te koop en het sy aanbod in Oktober verlede jaar herhaal. Hy is glad nie in kennis gestel van die besluit om nie die skilderye te verkoop nie.

“Dit is baie teleurstellend. Die skilderye word nie in die burgersentrum ten toon gestel nie, maar hulle wil dit ook nie verkoop nie. Die sentiment rondom die skilderye lê in ons omgewing, maar hulle wil dit wegstuur. Watse nasionale museum is hier behalwe die Schoemansdal Museum, wat afgebrand het? Dank die Vader die skilderye was nie dáár tydens die brand nie,” het Van Wyk gesê.

Me. Annatjie van Wyk, skoondogter van die skilder, het gesê dat sy sou verkies dat die skilderye by die Lalapanzi Erfenisstigtingmuseum uitgestal word. “Ek het vir die munisipale bestuurder gevra of hy al die skilderye self gesien het, nadat hy tydens my besoek gesuggereer het dat die skilderye wys hoe swart mense doodgemaak word. In daardie stadium het hy nog nie die skilderye self gesien nie,” het me. Van Wyk gesê. Die skilderye beeld grepe uit Louis Trichardt se dagboek uit,  soos ‘n nagmaaltoneel, ‘n renosterjag, ‘n gesinstoneel in ‘n hartbeeshuisie en ‘n onderwystoneel waar kinders en ‘n onderwyser onder ‘n boom sit, terwyl die skoolgeboutjie se dak met riete dek. 

Die familie sê dat hulle nie die optrede van die munisipaliteit en hulle redes verstaan nie. “Ek vind dit moeilik om die sisteem te vertrou en die skilderye in hulle besit te vertrou,” het mnr. Van Wyk gesê. 

Me. Inga Gilfillan van die Erfenisstigtingmuseum sê dat elke kultuurgroep die reg het om oor sy eie kultuurgoedere te besluit. “Dit is frustrerend dat die stadsraad so ‘n houding inneem van òf die skilderye wegsteek òf wegstuur. ‘n Wen-wen situasie sou wees as hulle die skilderye in die openbaar vertoon, moontlik in die biblioteek saam met die borsbeeld van Louis Trichardt,” het Gilfillan gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines