ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Nuwe rekeningstelsel nie sonder groeipyne

 

News  Date: 18 January 2013

 

Byt vas, ons is amper oor die hond se stert …

Dit is die oproep wat die Vhembe en Makhado munisipaliteite op inwoners gedoen oor die nuwe rekeningstelsel.

Dié nuwe stelsel behels dat die munisipaliteite voortaan twee rekeningstate in plaas van net een aan hulle verbruikers sal stuur.

In terme van die nuwe formaat sal waterverbruik en rioolheffings nou betaalbaar wees aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit, terwyl erfbelasting, vullisverwydering en elektrisiteitsverbruik aan die Makhado Munisipaliteit verskuldig sal wees.

Vhembe se nuwe rekeningstate het egter ‘n paar vrae laat ontstaan. Talle navrae is deur die koerant van inwoners ontvang wat wil weet waarom hulle nuwe rekening openingsaldo’s reflekteer, al was hulle op datum met hul betalings aan die Makhado Munisipaliteit. Sommige inwoners het ook gekla oor foutiewe meterlesings.

Die Vhembe munisipaliteit is genader vir kommentaar. Munisipale woordvoerder mnr. Ralushai Matodzi het Dinsdag aangedui dat beamptes aangesê is om die klagtes te ondersoek. “Dit is vir ons ‘n prioriteit om ‘n vinnige oplossing vir die saak te kry,” het Matodzi gesê.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) se bestuurder, mnr. Phillip Olivier, het die week bevestig dat die nuwe rekening ekstra man-ure vir hulle teweeg gebring het.

“Die munisipaliteite het gelukkig uit hulle pad gegaan om ons tegemoet te kom met rekeninge wat laat betaal is. Hiervoor is ons baie dankbaar,” het Olivier gesê.

Olivier se raad aan inwoners as hulle vermoed dat die bedrae en lesings op hul rekeningstate van Vhembe verkeerd is, is om dit onder die munisipaliteit se aandag te bring, sodat die probleem reggestel kan word. 

Lede en nie-lede is ook welkom om hom te skakel as hulle verdere hulp of advies nodig het. “Hierdie is ‘n nuwe stelsel en ons voorsien dat dit ‘n rukkie sal vat vir al die probleme om uitgestryk te word.”

Olivier kan geskakel word gedurende kantoorure by tel. 082 679 8324.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines