

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2013
Nie net het die bewolkte toestande oor die Soutpansberg die afgelope week verligting gebring ten opsigte van die versengende somerhitte nie, maar ook welkome reën.
Oom Willie Agenbacht van Makhado (Louis Trichardt) hou al vir jare pligsgetrou reënvalstatistiek.
“Sedert die reën verlede Vrydag begin het, het ek al 160mm gemeet,” sê oom Willie wat elke dag om 18:00 ‘n lesing neem by sy huis in Malvastraat. Vrydag het hy 1mm gemeet, Saterdag 19mm, Sondag 2mm, Maandag 27mm, Dinsdag 44mm en teen Woendagoggend was daar reeds 70mm in sy reënmeter.
Aangesien oom Willie soveel jaar al statistiek hou van die dorp se reënval, was die vraag aan hom of die huidige reënval normaal is vir hierdie tyd van die jaar.
“Die laaste paar jaar was dinge redelik deurmekaar wat reënval hier betref en was dit moeilik om ‘n patroon te bepaal. Tradisioneel was Desember ‘n goeie reënvalmaand, Januarie baie droër en Februarie weer lekker nat,” sê oom Willie.
Elders in die dorp was daar berigte van neerslae van tot 100mm vir Dinsdagaand tot Woensdagoggend. Vanuit die noorde is daar Maandag ook laat weet dat Musina lekker nat is. Dit is duidelik dat die reënwolke wyd lê oor die streek met baie goeie neerslae ook in die Tzaneen area.
En die boere blyk tevrede te wees ...
“Ek sukkel maar om my lietsjies klaar te oes, maar die reën is baie meer welkom,” sê mnr. Fritz Ahrens van die plaas Sterkstroom (Piesanghoek) op die Levubu-pad. Teen Woensdag het hy sedert Saterdag 284mm op sy plaas gemeet.
“My totale reënval vir Januarie is reeds 364mm – die meeste nog vir Januarie sedert die vloede van 2000,” sê Ahrens.
Mev. Hester Bayes van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) het Woensdagoggend by navraag gesê dat dit voorlopig lyk asof die hele streek goeie reën ontvang het.
Volgens Bayes is daar sedert Vrydag tot Woensdagoggend reeds 360mm gemeet op Levubu, 284mm vir Louis Trichardt, tussen 100mm en 160mm vir Waterpoort-area, tussen 70mm en 120mm vir Bandelierkop-area, 130mm by Mopani, 60mm op Vivo en 100m op Alldays.
Intussen blyk dit dat die nat toestande vir nog ‘n hele paar dae gaan duur. Volgens die webblad www.accuweather.com word daaglikse reënbuie en donderstorms vir Makhado (Louis Trichardt) voorspel tot Donderdag, 24 Januarie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
