

ADVERTISEMENT:

Wat RTI se kwitansies betref, is daar ook vrae oor wat die sin daarvan is? Op een van die koerant se kwitansies (1) is 'n bedrag ingevul, maar op die tweede kwitansie (2) is geen bedrag ingevul nie. Geen wonder dat inwoners meen dié nuwe stelsel leen homself tot die moontlikheid van grootskaalse bedrog, veral omdat die elektroniese toestel wat deur RTI aangeskaf is oor geen drukkerfasiliteit beskik vir die uitreik van kwitansies nie.
News Date: 18 January 2013
Hoe verbruikersvriendelik is die nuwe parkeerstelsel in Makhado (Louis Trichardt).
Skaars drie weke nadat die stelsel deur die Makhado Munisipaliteit in werking gestel is, is daar talle vrae by inwoners oor hoe die stelsel nou eintlik veronderstel is om te werk?
Die nuwe stelsel, wat aan die privaatmaatskappy Rirothe Trading & Investment (RTI) uitgekontrakteer is, het op 1 Desember verlede jaar in werking getree. Ingevolge die nuwe stelsel moet motoriste vooraf hul parkeergeld aan beamptes betaal wat die sypaadjies beman met ‘n elektroniese handtoestel. Dit is egter juis by die betaal stadium wat die verwarring insluip, aangesien baie inwoners ingelig word dat hulle eers wanneer hulle terugkeer na hul voertuie hoef te betaal.
Een inwoner, Tienie Viljoen, het oor ‘n periode van twee weke by drie geleenthede nie ‘n kwitansie ontvang nie. By een geleentheid, het Viljoen vertel, het die beampte hom gevra vir ‘n pen voor hy die kwitansie op ‘n afgeskeurde sigaretboksie geskryf het. Viljoen moes vooraf betaal vir sy parkering.
Adri Venter, ook van die dorp, het daarenteen nie ‘n kwitansie gekry nie. Sy het ook eers na die tyd betaal.
“Ek moes R20 betaal vir die tyd wat ek gebruik het om inkopies te doen en nog R5 ekstra om net gou onderlaag by Clicks te koop," het Adri gesê.
Dié wedervaringe het die Zoutpansberger aangespoor om self die nuwe stelsel te toets. By een geleentheid moes die koerant vooraf betaal en het slegs 'n kwitansie gekry toe daar vir een gevra is. In hierdie geval was taal ook 'n struikelblok. Die vrou wat die Zoutpansberger gehelp het, kon nie Engels of Afrikaans praat nie. Alle vrae aan haar is in Venda beantwoord. (Kliek hier om na die videogreep van die koerant se ondervinding te gaan kyk). By 'n ander geleentheid kon die koerant ná die tyd betaal.
Wat RTI se kwitansies betref, is daar ook vrae oor wat die sin daarvan is? Op een van die koerant se kwitansies is 'n bedrag ingevul, maar op die tweede kwitansie is geen bedrag ingevul nie. Geen wonder dat inwoners meen dié nuwe stelsel leen homself tot die moontlikheid van grootskaalse bedrog nie, veral omdat die elektroniese toestel wat deur RTI aangeskaf is oor geen drukkerfasiliteit beskik vir die uitreik van kwitansies nie. So ‘n fasiliteit is wel beskikbaar vir die stelsel en word met groot sukses in ander dorpe aangewend. RTI het egter nie vir 'n drukkerfasiliteit gevra nie.
RTI se personeelbestuurder, mnr. Dominic Mahlangu, het in ‘n onderhoud dit duidelik gestel dat die nuwe stelsel ‘n vooraf betaalde stelsel is. ‘n Beampte is veronderstel om, die oomblik as ‘n motoris geparkeer het, die voertuig se registrasienommer in sy toestel in te sleutel. Daarna moet daar ‘n kaartjie ingevul word waarop die datum, registrasienommer van die voertuig, tyd van parkering en wanneer die parkering verstryk, die bedrag betaal en die naam van die beampte verskyn. Dié kaartjie moet binne die voertuig (by die windskerm) vertoon word.
Indien die kaartjie nie vertoon word nie, kan ‘n verkeersbeampte ‘n boete uitreik. Mahlangu het gesê hulle beamptes is nie gemagtig om boetes uit te reik nie. Volgens hom is dit die beamptes se werk om bloot verkeersbeamptes te help om te bepaal watter voertuie se parkeertyd verstryk het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
