

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 January 2013
Masjinerie wat onklaar geraak het is volgens die Makhado Munisipaliteit die rede vir die haglike toestand van die plaaslike stortingsterrein.
Die Zoutpansberger het verlede week berig oor die stand van sake by die terrein. In die berig word melding gemaak van die verskeie permitvoorwaardes waaraan die stortingsterrein, in gevolge die Wet op Omgewingsbewaring van 1997, tekort skiet.
Volgens die permit is die munisipaliteit verplig om ‘n buffersone van 400m om die terrein te handhaaf. Die permitvoorwaardes vereis ook dat die dienspad na die terrein gangbaar en sonder enige vullis moet wees, wat ook die geval is nie. Vullis moet ook daagliks met ten minste 150mm grond toegestoot word.
Hierop het die munisipaliteit Dinsdag in ‘n persverklaring geantwoord dat hul kompakteermasjien buite werking is en “herstel word."
“Die munisipaliteit is in ‘n proses om ‘n kontrak uit te sit aan die privaatsektor vir nuwe masjinerie,” lees die verklaring. Verder het die munisipaliteit toegegee dat die huidige stortingsterrein oorloop. “Vandaar die vullishope wat hoër as 1.5m bo die grond lê,” sê die verklaring.
Volgens die verklaring is die munisipaliteit besig om ‘n nuwe terrein te ontwikkel, waarna die huidige terrein gerehabiliteer sal word. Verdere besonderhede oor die nuwe terrein is egter nie verskaf nie.
Die permitverskaffer, die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme, is ook genader en gevra wanneer hulle laas inspeksie gedoen het by die terrein om seker te maak dat die munisipaliteit hul permitvoorwaardes nakom.
‘n E-pos is op Dinsdag, 8 Januarie, aan hul woordvoerder me. Mboni Mushiana gestuur. Sy het die daaropvolgende dag ontvangs erken van die skrywe. Die e-pos is verlede Vrydag opgevolg. Volgens Mushiana sou die departement se bestuurder teen Maandag ‘n antwoord aan die koerant gee. Dié belofte is Maandag en Dinsdag opgevolg, maar teen druktyd was daar steeds geen antwoord van hulle af nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
