

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2003
MUSINA – Verskerpte beheermaatreëls teen die verspreiding van Bek-en-klouseer is reeds sedert die begin van die week van toepassing in die Rooilyn-gebied in die noorde van die provinsie, nadat die siekte by verskeie diere in die gebied gediagnoseer is.
Die LUR vir Landbou in die provinsie, dr. Aron Motsoaledi, het in 'n onderhoud met die Zoutpansberger bevestig dat 'n uitbreek van die siekte binne die Rooilyngebied aangemeld is. Hy het gesê dat verskerpte beheermaatreëls onmiddellik ingestel is op beweging in en uit die Rooilyngebied, wat die grens om die Madimbo Korridor en 'n tien kilometer sone langs die grens met die Makuya Wildtuin, die Kruger Nasionale Park en Mpumalanga insluit.
Dr. Motsoaledi sê dat solank as die uitbreek beperk bly tot die Rooilyngebied, sal dit geen verskil maak aan die landbou-uitvoerstatus van die land nie. As die siekte na buite die gebied versprei, sal dit uiters ernstige gevolge hê en sal die besmette gebied afgekordon moet word
"Binne die gebied sal my departement dit self kan hanteer. As dit egter na buite versprei, sal ons waarskynlik die weermag se hulp moet inroep om die hele besmette gebied af te sper," het dr. Motsoaledi gesê.
Hy sê volgens voorlopige toetse het die siekte 'n plaaslike oorsprong. Dit is van die tipe SAT 2. Daar is geen aanduiding dat dit van 'n buurland af ingekom het nie. Dit het vermoedelik 'n oorsprong by plaaslike buffels. Verdere laboratoriumtoetse is egter nog aan die gang om die presiese sub-tipe van die siekte vas te stel. Daaruit sal die oorsprong meer akkuraat bepaal kan word.
Oor die toestand van die betrokke grensheinings, sê dr. Motzoaledi daar algemene verwarring bestaan oor die verskillende heinings in die noorde van die gebied. Die enigste heining wat nie instand gehou word nie, is die een langs die voormalige Republiek van Venda, wat vanselfsprekend nie meer tersake is nie. Hy sê daar is voldoende beheer by die hek van die Rooilyngebied en die beheer en deursoeking word nou verskerp.
Binne die Rooilyngebied word alle vee twee keer per jaar teen Bek-en-klouseer ingeënt. Die jongste inenting was in Junie. Die vee in die gebied word hierbenewens ook weekliks geïnspekteer. Dit was juis tydens so 'n gereelde inspeksie dat die huidige uitbreek bemerk is.
Oor die situasie langs die internasionale grens met Zimbabwe, sê dr. Motsoaledi die heining is so onlangs as twee jaar gelede teen 'n bedrag van R2 miljoen volledig herstel. Die enigste gedeelte van die grensheining waar daar nog wel gereeld probleme ondervind word, is in die omgewing van Musina, waar onwettige immigrante die grensheining stukkend knip om die land binne te kom. Hierdie gedeelte van die heining is egter 24 uur per dag onder toesig en alle skade word onmiddellik herstel. Dit is ook nie naby die gebied waar die Bek-en-klouseer voorkom nie.
Woordvoerders van Georganiseerde Landbou in die Provinsie het in die verlede dikwels gewaarsku teen die gevaar van Bek-en-klouseer besmetting, weens die gebrek aan behoorlike beheer in Zimbabwe en onvoldoende patrollering en instandhouding van die tersaaklike grensheinings. Hulle het gewaarsku dat 'n verspreiding van die siekte na die algemene boerderygebied rampspoedige gevolge vir alle landbou-uitvoere sal hê en nie net die uitvoer van vee en ander vleisprodukte sal raak nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
