ADVERTISEMENT:

 

Bekende kinderboek- en kortverhaalskrywer Pieter du Plessis (57) wys na die snye op sy kop waar twee aanvaller hom met ‘n pyp en mes bygekom het vroeg Sondagoggend.

Bekende skrywer byna doodgeslaan

 

News  Date: 10 December 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Weet jy, mens voel nie pyn nie, want die adrenalien pomp so. Dit was seerder toe hulle die steke ingesit het.”

So het die kinderboek- en kortverhaalskrywer, Pieter du Plessis (57), gereageer nadat hy Sondag (5de) omstreeks 03:00 deur twee mans in sy slaapkamer oorval is.

“Ek het Vrydag by my nuwe huis in Groblerstraat ingetrek en Sondagaand weer uitgetrek. Nee, dis te gevaarlik hier,” vertel Pieter, tans onderwyser by Marunwa Skool.

Pieter se storie kon heel moontlik ‘n meer noodlottige einde gehad het. Tog is hy een van die min slagoffers van ernstige geweldsmisdaad wat bly leef het om sy skokondervinding oor te vertel.

Pieter sê hy het Saterdagaand rugby gekyk en besluit om daarna te gaan inkruip. Hy woon alleen en het sy kamerdeur toegemaak as gevolg van die lugversorger.

“Ek het skielik wakker geskrik toe ek hoor iemand stamp die deur oop. Dit was ongeveer 03:00. Synde ek geweet het ek is alleen in die huis, het ek dadelik geweet daar is moeilikheid.”

Pieter het opgespring en te staan gekom voor twee mans, een gewapen met ‘n meneer van ‘n mes en die ander met ‘n ysterpyp, skaars twee meter van hom af.

“Ek wou nog iets doen, maar die volgende oomblik toe slaan die een man my met die ysterpyp oor die kop. Daar was bloed orals en toe ek op die grond val het ek gedink ek is dood.”

Pieter het egter weer tot sy sinne gekom. Die twee mans het oor hom gestaan waar hy op die vloer gelê het en herhaaldelik geskreeu: “We’ll kill you! We’ll kill you! Where is the money!” Te midde hiervan het hulle hom geskop en geslaan en ook met die mes bygekom. Dit het vir amper ‘n halfuur so aangegaan.

“Ek is seker al rede hoekom hulle my nie dadelik doodgemaak het nie, was ‘n misverstand oor geld. Ek het gesê hulle moet vat wat hulle wil hê, self my kar, maar hulle moet my net nie doodmaak nie. Ek het ook vir hulle gevra ‘Did you get the money?’ Klaarblyklik het hulle klaar die bietjie kontant wat ek gehad het gevat en was hulle onder die indruk daar is nog.”

In ‘n stadium het Pieter gevra om badkamer toe te gaan met die belofte dat hy vir nog geld daar sal soek. Die twee mans het hom al skoppend en slanend begelei.

“Ek het geweet daar is niks in die badkamer nie en ons is weer terug slaapkamer toe. Sover as wat ons geloop het het hulle my gedreig, geskop en geslaan.”

Amper by die kamerdeur, was Pieter ‘n paar treë voor die mans. Hy het haastig by die kamer ingestorm en die kamerdeur agter hom toegestamp en gesluit.

“Skielik was dit stil. Dit het al begin lig word, maar ek het maar gewag dat die son eers uitkom voordat ek hulp ontbied het.”

Intussen is die mans met Pieter se selfoon, videomasjien, televisie, ‘n DVD-speler, kontant en ‘n paar ander dinge die strate in. Gelukkig het hulle sy voertuig gelos.

“Ek is 100% seker dit was Zimbabwiërs aangesien ek weet hoe hulle Engels praat. Ek plaas die skuld vir hierdie aanval op my lewe direk op die skouers van mense wat Zimbabwiërs in diens neem. Hierdie Zimbabwiërs word betaal en stuur boodskappe na familielede oor die grens van rykdom en geld. As mense ophou om Zimbabwiërs in diens te neem, sal die streek nie meer so aanloklik wees nie. Ek praat nie eers van die werksgeleenthede wat hulle van ons plaaslike bevolking ontneem nie,” sê Pieter.

Op ‘n positiewe nood is Pieter dankbaar vir die behandeling wat hy by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal ontvang het.

“Hulle het my uiters professioneel en met deernis behandel. Die diens was puik en uit die boonste rakke.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines