

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - 'n Man het wonderbaarlik aan die dood ontkom, nadat veertig koeëls op hom afgevuur is waar hy in 'n bakkie gereis het in die omgewing van die Mara Polisiestasie. Slegs drie koeëls het hom getref en hy leef om die storie te vertel.
Mnr. Carter Makhuvha (42), 'n inwoner van die dorp en verkoopsverteenwoordiger van Zoutpansberg Meule, het op 29 Julie teruggekeer van kliënte in die Bochum-area. Omstreeks drie uur die middag en ongeveer 9km van Mara, op die pad na Louis Trichardt, het 'n bruin Mazda 626 met vier insittendes hom ingejaag en met handtekens gewys dat hulle geld soek.
Die een insittende het by die linkervenster uitgeleun, 'n geweer op die bakkie gerig en begin skiet. Mnr. Mukhuvha het die bakkie sonder aarseling omgeswaai en in die teenoorgestelde rigting weggejaag. Hy was immers nie ver van die polisiestasie af nie.
Die rowers het op die bakkie begin vuur en skynbaar geen tekort aan ammunisie gehad nie. Die skote was reg na die kop van die bestuurder gemik. Intussen het Mukhuvha kop gehou en die voertuig op die pad gehou, met een hand op die stuurwiel en sy kop omlaag. Telkens wanneer hy gevoel het dat die wiele die teer verlaat, het hy teruggeswenk na die teerpad toe. Een van die bande is ook raakgeskiet.
Groot gate in die koprus en regdeur die voorruit vertel die verhaal dat hierdie bestuurder van 'n gewisse dood ontkom het. Een koeël het Makhuvha in die regterarm getref en twee in sy rug, weerskante van die rugwerwels. Die verdonkerde kantruite van die voertuig het ook 'n mate van beskerming gebied. "Ek sê baie dankie vir die Here dat ek lewe. Maar ek is nie bang vir daardie mense nie. Hulle was baie kwaad en hulle het baie geskiet," sê mnr. Makhuvha. Die rowers het bly vuur tot ongeveer 500m van die polisiestasie, waarna hulle weggejaag het. By die polisiestasie aangekom, het 'n bebloede mnr. Makhuvha die deur oopgemaak, duiselig gevoel en op die grond bly lê. Waar hy gelê het, het hy sy verkoopsbestuurder, mnr. Edwin Ntabeleni, geskakel om te kom help. Volgens mnr. Makhuvha het die polisie eers 25 minute later na die rowers gaan soek. Mnr Ntabeleni het die slagoffer na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal geneem waar hy gestabiliseer is en daarna oorgeplaas is na 'n privaathospitaal in Polokwane. Die koeëls is verwyder en hy was binne sewe dae weer terug in die tuig.
Intussen het mnr. Makhuvha se werkgewer 'n sterk-bewoorde brief, gedateer 1 Augustus, gerig aan Superintendent Hannes Snyders van die SAPD se areakantoor in Thohoyandou. Hulle het beswaar aangeteken teen swak en onprofessionele diens en gesê dat die beeld geskep word dat die polisie bang is vir die rampokkers. Oor 'n tydperk van sewentien maande, waarin agt rooftogte aangemeld is, het nog nie een ondersoekbeampte teruggekom met enige inligting nie.
Supt. Snyders het Woensdag gesê dat hy nog nie die brief onder oë gehad het nie, aangesien hy buite die kantoor besig was met werkswinkels en misdaadtonele. Hy is in kennis gestel van die ongelukkigheid rondom die voorval van 29 Julie by Mara. Hy het voorts gesê dat dit nie help as die publiek met frustrasies sit en op bestuursvlak weet die SAPD nie daarvan nie. Daarom is dit goed as klagtes deurgestuur word na die Area Kommissaris.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
