

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 January 2013
‘n Boer van die Soutpansbergstreek braak gal oor die Makhado Munisipaliteit se klaarblyklike argelose bestuur van hul elektrisiteitsafdeling.
“Genoeg is genoeg! Waar moet mens die streep trek?” het ‘n ontstoke mnr. Steven de Bruin verlede Donderdag gesê. Stukkende elektrisiteitspale, wat veroorsaak het dat die kraglyne hang, het kort tevore twee beeste doodgeskok.
De Bruin, van die plaas Brakspruit, sowat 20km buite Makhado (Louis Trichardt), is radeloos nadat hy die probleem al weke tevore aangemeld het en daar dadels van gekom het. Boonop verduur hy en sy gesin pal kragonderbrekings en moes hulle ‘n kragopwekker se onkostes begin dra.
De Bruin se penarie het begin toe ‘n kragpaal verlede jaar, net na Kersfees, deur ‘n weerligstraal geslaan en uitgebrand is. Omdat die paal net tydelik reggemaak is op 28 Desember, sê De Bruin, het dit die probleem net vererger.
Daar is beloftes aan De Bruin gemaak dat behoorlike herstelwerk in die nuwe jaar gedoen sal word, want daar was nie dadelik genoeg arbeid beskikbaar gewees nie. “Kyk nou wat het ons van daardie beloftes,” het De Bruin gesê, terwyl hy langs die twee koeie se karkasse gestaan het. “Net mooi niks!”
Die reën wat sedert Januarie oor die streek uitgesak het, het verder daartoe bygedra dat nog ‘n paar pale weggesak het in die grond. Die 22 000 volt hoëspanningslyne het byna aan die grond geraak. Die twee koeie wat daar gewei het, is doodgeskok. Hulle kalfies het oorleef en het daar naby gestaan en bulk.
De Bruin het weer die probleem op 16 Januarie vir die soveelste keer by die munisipaliteit aangemeld, maar geen hulp ontvang nie. “Ek het al die skakelbord se tune uit my kop geken.”
Teen Donderdag het daar wel munisipale werkers opgedaag om die paal te herstel. Volgens dié werkers het die elektrisiteitsafdeling van die munisipaliteit in daardie stadium gebuk gegaan onder ‘n staking. Gerugte van die staking kon nie by die munisipaliteit bevestig word nie. Die munisipaliteit is verlede week ook spesifiek gevra of hulle verantwoordelikheid gaan aanvaar vir die skade wat gelei is. Teen druktyd was daar nog geen antwoord vanaf die munisipaliteit nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
