

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2004
MUSINA – Woonhuise is beskadig, strate versper en krag- en telefoonverbindings ontwrig, toe ‘n donderstorm gepaard met ‘n hewige werwelwind gedeeltes van die dorp verlede week getref het.
Die fratsstorm het Donderdagnag hoofsaaklik langs die suidoostelike soom van die dorp beweeg en groot bome uit die grond geruk. Ernstige skade is aan verskeie woonhuise aangerig toe ontwortelde bome op die huise neergeknars en kamers in puin gelê het.
Kragonderbrekings en ontwrigte telefoonverbindings was Vrydag nog aan die orde van die dag, terwyl strate op verskeie plekke versper was deur grote bome wat oor die strate geval het. Sover bekend is niemand in die vernietigende storm beseer nie, maar berigte van verskeie noue ontkomings is ontvang.
‘n Prominente sakeman van Musina, mnr. Jason Rana, en lede van sy gesin het beserings ontkom toe hulle op hulpkrete buite in die straat gereageer en uit hul woonhuis gestorm het, kort voordat ‘n reuse boom op die huis neergestort en drie vertrekke in puin gelê het. Een van die vertrekke was die badkamer, waar mnr. Rana minute tevore nog in die stortbad was. Sy tienerseun se slaapkamer is die ergste getref. Benewens die dak wat geheel en al vernietig is, is ernstige strukturele skade ook aan die mure aangerig. By die hoek van die kamer is die buitemuur deur die geweldige slag uit sy fondament geruk, terwyl die muur gevaarlik oorhel.
By die woonhuis van mnr. Rudi Vos, ‘n bekende in landboukringe, het ‘n reuse boom regoor die huis se dak neergestort, die dak en balkwerk verpletter en ruite aan skerwe laat spat. Sy negejarige seun, Rudolph, wat in sy slaapkamer gesit en speel het, het weens die felheid van die storm benoud geraak en na sy pa in die kombuis gestap. Terwyl hulle saam in die kombuis was, het die boom sy slaapkamer gedeeltelik in puin gelê. Versplinterde balke het op die bed neergestort waar hy kort tevore gesit en speel het.
“Daar was duidelik te midde van die verwoesting ook ‘n groot klomp genade,” het mnr. Vos Vrydag gesê terwyl die duur opruimingswerk aan die gang was.
Een van die grootste bome wat ‘n woonhuis getref het, was op die perseel van mnr. Theo en mev. Non Saayman. Die boom, wat in ‘n keurige tuin digby die voorhekkie gestaan het, is in die rigting van die woonhuis omgeruk, sodat die kruin van die boom die hele voorkant van die huis bedek het. Hoofsaaklik net die rand van die dak, die geutwerk en fassieplanke is beskadig. Die kolossale boom sal egter teen aansienlike koste deur deskundiges verwyder moet word, aangesien dit ernstige skade kan veroorsaak as dit na die verkeerde kant toe omkantel. Die boom was ‘n gewilde hawe vir talle wilde voëls wat gereeld deur die egpaar gevoer word.
“Sover ons kon vasstel was ‘n vinkwyfie die enigste ongeval. Sy was klaarblyklik tydens die vernietigende storm in die nes op haar eiers.” sê mev. Saayman.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
