

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2003
MUSINA – 'n Bekende inwoner van Pontdrif, mev. Joey Lemmer, is op 12 Augustus in die rype ouderdom van 84 jaar oorlede.
Tannie Joey het die afgelope 35 jaar op die plaas Nekel saam met oom Faan (85), met wie sy vir 63 jaar getroud was, gewoon. Sy is oorlede aan longkanker. Johanna Susanna Lemmer is op Republiekdag (31 Mei) 1919 op Krugersdorp gebore. Na haar huwelik met Faan, het hulle eers in Vanderbijlpark gewoon, voordat hulle hul op die plaas gaan vestig het. Vier seuns is uit die huwelik gebore. Haar kinders en die gemeenskap onthou haar by uitstek as 'n gelowige mens.
"Sy was 'n ware voorbeeld vir die gemeenskap. Sy het ook vir ons gewys hoe om te leef. Sy het net altyd gegee en gedien," sê haar seun, Herman.
Tannie Joey het baie vir die APK-gemeente beteken en ook talle jare as voorsitter van die Sustersvereniging gedien. Sy word oorleef deur haar man, vier seuns (Herman, Fanie, Johan en Martin), tien kleinkinders en twee agterkleinkinders. Die begrafnis vind plaas op Vrydag, 15 Augustus om 10:00 vanuit die Hervormde Kerk, Musina. Die diens word waargeneem deur Ds. James van Heerden.

ADVERTISEMENT:
