ADVERTISEMENT:

 

Raadsamptenaar kla oor viktimisasie

 

News  Date: 15 August 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "Genoeg is genoeg! Ek sal nie so ver gaan om die woord 'rassisme' te gebruik nie, maar hulle is definitief besig met 'n proses van viktimisasie om my te probeer uitwerk."

Dié ernstige beskuldiging is die afgelope week deur mnr. Nico Theunissen van die munisipale Verkeersafdeling teenoor sy direkte departementshoof binne die Makhado Munisipaliteit geopper, na aanleiding van wat hy beskryf as 'n proses van viktimisasie.

"Ek is gevra om nie koerant toe te kom nie, maar genoeg is genoeg. Niks wat hulle aan my kan doen kan erger wees as dit wat ek die afgelope paar maande moes verduur nie. Ek wil hê mense moet weet wat ons as 'blanke' amptenare daagliks moet opvreet," vertel mnr. Theunissen.

Mnr. Theunissen vertel dat die hele gemors in November verlede jaar begin het, tydens die brandweer se jaareindfunksie. Na afloop van die geleentheid het een van die nuut-aangestelde direkteure hom beskuldig van opsetlike saakbeskadiging, nadat haar voertuig deur iemand in die parkeerterrein beskadig is. Ten tye van die onthaal was mnr. Theunissen werksaam by die plaaslike brandweer. Niks het van die saak gekom nie.

Buiten vir bogenoemde, is mnr. Theunissen en die plaaslike brandweerhoof, mnr. Freek van Niekerk, ook na afloop van die funksie van rassisme beskuldig, nadat 'n ander direkteur se das afgesny is. Dit is klaarblyklik tradisie dat geen dasse gedra mag word na die brandweer se jaarlikse jaareindfunksie nie en dat persone wat daar opdaag met dasse, se dasse afgesny word. Eers het almal dit as 'n groot grap beskou. 'n Paar dae later is mnre. Theunissen en Van Niekerk egter ingeroep en daarvan beskuldig daarvan dat hul optrede rassisties was.

Kort na die das-voorval, het mnre. Theunissen en Van Niekerk weer deurgeloop. In Desember het 'n amptenaar in die middernagtelike ure afgekom op 'n "wapenfabriek" by die brandweerstasie. Voor sonop die volgende dag, het die Raad reeds baie moeite gedoen om 'n boodskap die wêreld in te stuur dat die "wapenfabriek" moontlik verbind kan word met "verregse" aktiwiteite. Dit nadat 'n klein houertjie nitrosellulose-dryfmiddel, wat wettiglik gebruik word om ammunisie te herlaai, en 'n half-voltooide, gebarste geweerkolf in een van die store by die stasie gevind is. Beide mnre. Theunissen en Van Niekerk is onmiddellik uitgewys as die sondebokke.

Die belaglikheid van die hele wapenfabriek-petalje het egter gou aan die lig gekom. Mnre. Theunissen en Van Niekerk behoort altwee aan skietklubs, met mnr. Van Niekerk wat sy eie ammunisie laai. Die polisie het uitgewys dat mnr. Van Niekerk nie eers 'n lisensie nodig het om dié spesifieke hoeveelheid dryfmiddel aan te hou nie en die saak het 'n vroeë dood gesterf. Ten spyte hiervan het die Raad tot op hede nog geen poging aangewend om 'n regstelling te maak ten opsigte van die beweerde "verregse wapenfabriek" nie.

Kort na bogenoemde voorval, het die Direkteur Beskermingsdienste, mnr. Mavhungu Musitha, geweier om mnr. Theunissen se oortyd en bystand vir Desember te betaal. Mnr. Theunissen het gedurende dié tydperk oortydverlof ingesit, om reëlings te tref vir sy troue. Dit het behels dat, alhoewel hy vanaf 07:00 tot 16:00 op verlof was, hy sy werksure na-uurs kon inwerk. Volgens mnr. Theunissen het mnr. Musitha aangevoer dat hy die betaling nie gaan goedkeur nie, aangesien hy op verlof was.

"Dit is nie my skuld mnr. Musitha weet nie hoe werk die beginsel van oortydverlof nie," sê mnr. Theunissen. Sy oortyd en bystand is uiteindelik in Februarie aan hom uitbetaal, nadat die proses eers aan mnr. Musitha verduidelik moes word. Dit was steeds nie die einde van mnr. Theunissen se sorge nie. Vanaf 24 tot 28 Februarie het hy verlof ingesit vir sy troue en wittebrood. Die verlof is goedgekeur, maar die dag toe mnr. Theunissen op verlof wou gaan, is hy na-uurs ingelig dat mnr. Musitha sy verlof kanselleer.

"Ek het in elk geval op verlof gegaan, aangesien hy geen redes verstrek het waarom my verlof gekanselleer is nie. Volgens die diensvoorwaardes moet daar redes verstrek word waarom 'n persoon se verlof geweier word," sê mnr. Theunissen.

Na sy terugkeer van verlof ontvang mnr. Theunissen toe skielik 'n brief van mnr. Musitha wat hom in kennis stel dat sy diens by die brandweer opgeskort word, en dat hy moet terugkeer Verkeersafdeling toe. Hy is in Julie verlede jaar van die Verkeersafdeling oorgeplaas na die brandweer.

Mnr. Theunissen het in antwoord hierop 'n brief geskryf aan die Raad waarin hy uitwys dat hy volgens die Raad se organogram aangestel is as leier-brandweerman en nie as 'n verkeersbeampte nie. Hy het dit ook onder die Raad se aandag gebring dat daar 'n ernstige personeeltekort is by die brandweerstasie, in teenstelling met die groot hoeveelheid verkeersbeamptes by die Verkeersafdeling. Mnr. Theunissen het dit in die brief beklemtoon dat verdere afskaling van die personeelkorps by die brandweerstasie katastrofiese gevolge sou hê. Tot en met verlede week, sê mnr. Theunissen, was daar slegs vier brandweerbeamptes in 24-uur skofte aan diens, om 'n totale munisipale area van ongeveer 16 000 km² te hanteer. Een van hulle is permanent in die radiokamer, wat beteken dat daar slegs drie beamptes oor is om ongelukke en ander krisisse te hanteer. Mnr. Theunissen het ook in die brief dit onder die Raad se aandag gebring dat hulle reeds derduisende rande aan opleiding en nuwe uniforms vir hom spandeer het, en dat hulle al dié geld in die water sal gooi indien hulle hom weer terugskuif Verkeersafdeling toe.

Mnr. Theunissen se pleidooi om by die brandweerstasie aan te bly, het op dowe ore geval. Op 15 April het mnr. Musitha hom in 'n brief gedreig dat hy van insubordinasie aangekla sal word, indien hy nie onmiddellik aanmeld by die Verkeersafdeling nie. Mnr. Theunissen het kort daarna siekverlof ingesit en op 4 Augustus diens aanvaar by die Verkeersafdeling.

"Ek het gehoop mnr. Musitha se houding teenoor my gedurende my siekverlof sou verander het, maar ek het myself gebluf. Ek wag steeds vir my oortyd en bystand wat ek met my eie voertuig oor Paasnaweek gewerk het. Ek wil graag werk, maar het nog nie eers 'n uniform ontvang nie. Die Raad weier ook om vir my 'n voertuig te gee en ek moet met my eie voertuig werk," vertel mnr. Theunissen.

Mnr. Theunissen sê dat die Raad vir hom verlede Donderdag 'n voertuig uitgereik het om mee te werk. Maandag is die voertuig by hom teruggeneem. Hy is deur sy departementshoofde meegedeel dat hy nie toegelaat sal word om 'n raadsvoertuig te bestuur nie na aanleiding van 'n ongeluk op 18 Januarie vanjaar, waartydens hy sy reaksievoertuig afgeskryf is onderweg na 'n ongelukstoneel.

"Nee, hulle het definitief hulle mes in vir my. Nou moet ek saam met iemand anders ry wat alreeds vyf ongelukke veroorsaak het. Hoe moet 'n mens onder hierdie omstandighede werk?"

Die Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado, het Woensdag in die teenwoordigheid van Direkteur Musitha en mnr. Ndwammbi gesê dat hy nie gaan reageer op personeelaangeleenthede in die media nie. Hy het mnr. Theunissen uitgenooi om die regte kanale te gebruik, hetsy deur sy vakbond of die plaaslike Raad se Arbeidsforum. Mnr. Rambado het wel genoem dat die Raad hulle personeel kan aanwend soos hulle goeddink en dat Mnr. Theunissen nie die optrede as viktimisasie of konstruktiewe ontslag moet beskou nie. Hy sê dat hy nog altyd sy personeel aanmoedig om as 'n span saam te werk.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines