

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 January 2013
Die voorsitter van AfriForum in Makhado (Louis Trichardt), mnr. Wally Schultz, het ‘n gru-nag in ‘n polisiesel deurgebring nadat hy op 17 Januarie vir ‘n onbenulligheid gearresteer is.
Die beheeraanklaer het op 18 Januarie geweier om te vervolg.
“Advokaat Masia se woorde was: ‘Die saak is te onbenullig. Ek gaan dit nie op die rol plaas nie’,” het Schultz se prokureur, me. Veruska Pretorius, Maandag gesê.
Die “onbenulligheid” waarna die aanklaer verwys, is ‘n klag wat mnr. Christiaan “Scoop” Cloete van die Afrikaanse poniekoerant Sondag by die Makhado polisiestasie teen Schultz gelê het na ‘n onderonsie by die Purple Olive restaurant in Kroghstraat. Volgens Cloete se berig het hy ‘n klag van aanranding, opsetlike saakbeskadiging en intimidasie gelê.
Om 14:45 was Schultz by die Purple Olive besig met ‘n onderhoud met ‘n vroulike verslaggewer van die Vhembe Herald. Mnr. Johan Fourie, 'n lektor by die Universiteit van Venda, was ook teenwoordig. Fourie sê dat ‘n onbekende persoon (Cloete) daar aangekom het en met die vroulike verslaggewer begin praat het. Fourie sê dat Schultz ‘n nommer van ‘n persoon aan Cloete verskaf het.
“Ek het vir hom gesê dat die Sondag dinge uit proporsie opblaas en dat hy ‘n storie wil skep waar daar nie ‘n storie bestaan nie. Dit gaan oor lede van ons gemeenskap. Ek het die nommer weer afgeskeur. Ek het hom nie aangeval of gegryp nie. Ek kan nie onthou of ek vir hom gesê het dat ek hom gaan blik#@* soos wat hy in sy berig beweer nie,” het Schultz gesê.
Fourie sê dat die betrokke dreigwoorde nie in sy teenwoordigheid gesê is nie. “Almal daar was verbaas toe die polisie opdaag. Volgens ons het absoluut niks gebeur nie. Ons het gedink Wally sou oor ‘n uur terug wees,” het Fourie gesê. Dit was egter nie die geval nie.
“Ek het in die polisiesel ingestap, ‘n klein vertrek met 10 soos sardientjies ingedruk en ‘n toilet in die hoek. ‘Hey Medalla, I want 20 push-ups,’ het ‘n groot ou van ver oor die ses voet gesê. Ek het dit nie gedoen nie, want dis hulle taktiek om jou moeg te maak. Die groot ou het in die middel gaan staan, nadat hulle die lig met ‘n balaklawa verdof het. Ek het dit afgeruk en het hom in sy privaatdele geslaan. Ek het gevoel of ek in ‘n lewende hel was. Die staaldeur is so dig toe dat daar geen manier is om die wagte se aandag te trek nie. Ek het gedink hier gaan ek verkrag word. Of ek gaan geslaan word totdat daar net bloed lê. En die polisie sal die volgende oggend kom en my nog beveel om my eie bloed op te vee. Hulle het nie een keer kom patrolleer nie,” sê Schultz, wat dankbaar is dat hy homself kon verdedig.
Voor die gru-nag begin het, het Schultz se prokureur haar bes gedoen om hom uit die selle te kry. Pretorius is vanaf 19:30 tot 20:55 van bakboord na stuurboord gestuur. “By die aanklagkantoor het kaptein Muedi gesê dat hy bewus is van die arrestasie, maar dat daar geen bystandsinspekteur is om die gearresteerde aan te kla nie. Hy het inspekteur Tshikotshi, wat aan diens was, geskakel en dié het hom meegedeel dat hy eers die volgende dag daar gaan wees om die aanklag te lê. Kaptein Muedi het my aangesê om ‘n aanklaer te bel, maar geen aanklaer kon my help voordat daar nie ‘n aanklag is nie,” het Pretorius gesê. Sy het meer as 10 oproepe gemaak, ook na stasiebevelvoerders Rambau en Ramovha en kolonel Tshililo. “Tshililo het gesê dit moet onderling by die polisiestasie uitgesorteer word, maar dit is nie,” het Pretorius gesê.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het op 22 Januarie bevestig dat “daar so ‘n saak was en dat die omstandighede ondersoek word.”
“Die saak is uitgestel en Schultz is uit op borgtog,” het Sondag se berig gelui. Dit is glad nie waar nie en derhalwe nie moeilik om die poniekoerant se berigte oor ander lede van die gemeenskap ernstig te bevraagteken nie.
Wat sê AfriForum?
“Dis nie ‘n lekker ding wat gebeur het nie. AfriForum is nie gelukkig oor Sondag se beriggewing nie. Ons eis ook professionaliteit en die regte optrede van ons voorsitters. Ons kyk vorentoe en staan agter Wally...” het AfriForum se Limpopo organiseerder, mnr. Tiaan Esterhuizen, by navraag gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
