ADVERTISEMENT:

 

Dok Lappies Labuschagne en sy seun Shane, ‘n radioloog op besoek uit Australië, bekyk die X-strale van Dok Lappies se rug wat hy beseer het toe hy Saterdag in ‘n kloof afgetuimel het. Hy moes ‘n ernstige rugoperasie by die Faerie Glen Hospitaal in Pretoria ondergaan om die skade aan sy L1-werwel te herstel. Foto verskaf

Dokter beseer rug ná val in Soutpansberg

 

News  Date: 25 January 2013

 

‘n Dokter van Makhado (Louis Trichardt) moes Saterdag te midde van die hewige stortreën in die middernagtelike ure na die Faerie Glen Hospitaal in Pretoria deurgejaag word vir ‘n noodoperasie aan sy rug, nadat hy in ‘n kloof in die Soutpansberg afgetuimel het.

Die 68-jarige dr. Lappies Labuschagne was vroeër die dag saam met familie en vriende op besoek aan die plaas Wallfield op die Bluegumspoortpad. Die besoek het gedien as verkenningstog, aangesien sy skoonseun en plaaslike veearts, Freddy Harris, ‘n opsie het om die plaas te koop.

Dok Lappies, soos hy alombekend is, en Freddy, vergesel van Freddy se seun Elardus, het omstreeks 12:00 besluit om hoër op in ‘n kloof te stap om na ‘n fontein te gaan kyk.

In ‘n stadium het die kloof egter so steil begin word dat die stap in ‘n klim ontaard het, en Dok Lappies het besluit om om te draai. Freddy en Elardus het aanhou stap.

Oomblikke later het hulle gehoor hoe gil Dok Lappies. Kort daarna het hulle op hom afgekom. Hy het klaarblyklik sy balans verloor, teen ‘n steil rotswand afgegly en sowat twee-en-‘n-half meter ver geval en op ‘n rotslys te lande gekom. Hy was in erge pyn.

“Elardus het histeries by ons aangehardloop gekom en geskreeu: ‘Oupa het seergekry’,” het dogter Annette Kennealy Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Hulle was in daardie stadium onder in die kloof.

Gelukkig was Dok Lappies se seun Shane, ‘n radioloog op besoek uit Australië, byderhand om te help. Die familie het hulle gehaas na waar hy geval het.

“Dit het ons sowat twee-en-‘n-half ure geneem om hom uit die berg tot by die Zoutpansberg Privaathospitaal te kry. Ons het dadelik gesien daar is fout. Elke knik in die pad waaroor ons gery het, het my pa van erge pyn gekreun,” sê Annette.

By die hospitaal aangekom, was dit gou duidelik dat Dok Lappies se besering 'n spesialis se aandag gaan benodig. “Ons het hom deurgejaag Pretoria toe. Onderweg was daar ‘n ongeluk en die pad is gesluit, wat ons geforseer het om ‘n ompad te ry. Dan het dit nog hewig gereën ook. Ons het eers rondom middernag by Faerie Glen aangekom. Dit was nie ‘n lekker rit nie,” sê Shane.

By Faerie Glen aangekom, is Dok Lappies in die hoësorgeenheid opgeneem. Plate het gewys dat hy ‘n kompressie fraktuur van sy L1-werwel (net onder die ribbekas) opgedoen het. Sondag is hy geopereer.

“Die werwel was bykans 50% platgedruk. ‘n Fragment het teruggestoot in die kanaal waar al die senuwees is,” sê Shane. Die operasie was ‘n sukses en die fragment is verwyder. Die familie is optimisties dat Dok Lappies vinnig sal herstel.

Hy is Maandag na ‘n gewone saal oorgeplaas en hy sou na verwagting Woensdag ontslaan word. "Hy sal egter vir ‘n geruime tyd met ‘n rugstut moet saamleef,” sê Annette. Sy is dankbaar dat die lysie gekeer het dat haar pa verder in die kloof aftuimel.

“Pa is maar baie stil oor die affêre, want hy is nog in erge pyn,” het Annette gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines