ADVERTISEMENT:

 

Veral plase in die Weipe- en Pontdriftgebied het erg deurgeloop, nadat die Limpopo sy walle oorstroom het. Foto verskaf.

Families in ‘n oogwink deur vloedwater oorval

 

News  Date: 25 January 2013

 

“Mens kan nie reën maak nie, maar ‘n mens kan darem regmaak wat die reën gebreek het.”

Mnr. Danie Erasmus, ‘n boer van die Weipe-omgewing, het met dié opmerking meeste inwoners van die Limpopovallei se gevoelens raak opgesom. Swaar reënval die afgelope naweek het tot wydverspreide oorstromings gelei en ‘n demper op die gemoedere van talle boere en inwoners geplaas.

“Ag, maar dinge lyk vandag beter ... dit lyk altyd beter as die son eers skyn,” het Danie Dinsdag telefonies van sy plaas Katina vertel.  “Daar was wel skade, maar meestal aan die damwalle, paaie, drade, wild en huise wat oorstroom het.”

Daar was tog ‘n paar benoude oomblikke vir die Eramus-familie en hulle bure.  “Niemand het gedink die water gaan so hoog en so vinnig opstoot nie,” het Danie vertel.

Alles het Sondag begin.

‘n Mens moes al die middag baie versigtig wees as jy oor die plaaspad gery het, vertel Danie. Hy het sy kinders in Tzaneen gaan haal. “Ons het nie gedink die water sal hoër opstoot nie.”

Met sy terugkoms kon Danie nie weer deur die strome ry nie - dit was nou ‘n kolkende massa. “Al die water het sommer gelyk hier aangekom,” het Danie gesê.

Danie se vrou Dané en die plaasbestuurder was nog op die plaas vasgekeer. “Ek het dadelik vir Dané gebel en gesê hulle moet hoër op gaan en skuiling soek. Hulle is in ‘n kwessie van 10 minute oorval in die gietende reën.”

Hulle moes sowat ‘n uur wag voor Jacques Willemse, ‘n medeboer, hulle kon kom haal met sy helikopter . Dané het saam met nog mense wat Willemse gehelp het, die nag op sy plaas oornag. Almal moes egter op die boonste verdieping slaap, want die onderste verdieping was met tye tot bykans 'n halwe meter oorstroom.

Intussen, op die buurplaas Skutwater van mnr. Piet Esterhuizen, het nog ‘n drama ontvou. Oom Piet, het Danie vertel, was besig om plaaswerkers en hul gesinne wat vasgekeer was te help, toe die groot water hulle ook oorval het. “Dit was eintlik onwaarskynlik dat sy huis sou water kry ... maar skielik was alles onder water,” het Danie gesê.

Oom Piet, Danie se skoonsuster Lizelle en haar man Coert, hulle twee seuns en die plaaswerkers was tot die aand toe op ‘n trekker vasgekeer. Hulle het so teen 02:00 afgeklim en gaan skuiling soek in die plaas se kantoortjie.

Die water op oom Piet se plaas het in ‘n stadium so hoog opgestoot dat die gestalde perde se koppe nouliks bo die water uitgesteek het. “Lizelle-hulle, wat dit gesien het, sê dit was iets verskrikliks,” vertel Danie. Die perde kon darem later gered word. Danie se gesin se worshondjie, Ore, was nie so gelukkig nie. Hy het by 'n venster uitgespring en is toe deur die water meegesleur.

Net soos talle ander mense het die Erasmus-familie ook sonder krag gesit die naweek. “Ons is darem nie afgesny nie en kan nog by Musina en Alldays uitkom,” het Danie gesê.

Die vloedwaters het vinnig gesak en die Erasmusse en Esterhuizens kon al teen Maandag weer by hulle huise kom en begin opruim.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines