ADVERTISEMENT:

 

Die Shingwedzi-ruskamp in die Kruger Nasionale Park, feitlik heeltemal onder water nadat die Shingwedzirivier sy oewers oorstroom het. Reddingshelikopters van 19 Eskader op LMB Hoedspruit se hulp is Maandag ingeroep om vasgekeerde personeellede na veiligheid te bring. In die agtergrond kan gesien word hoe angsbevange personeellede, wat op die geboue se dakke gaan skuiling soek het, die Oryx-helikopters se aandag trek. Foto: AO2 Noel Kloppers / LMB Hoedspruit.

Vloedwater herinner sterk aan 2000

 

News  Date: 25 January 2013

 

Hewige stortreën en gepaardgaande vloedwaters het die afgelope week grootskaalse verwoesting in die Limpopo Provinsie gesaai en ook gelei tot talle sterftes.

Soos met die vloede van 2000 was daar geen tekort aan trauma en drama nie, met talle brûe wat weggespoel het, woongebiede wat van die buitewêreld afgesny is en baie, wat hul toevlug in bome en op huise se dakke gaan soek het, wat met helikopters opgepik en na veiligheid gevlieg moes word.

Die hewige stortreën is veroorsaak deur ‘n intensiewe laedrukstelsel wat op 18 Januarie vanaf Botswana oor die land inbeweeg het. Dit het die Suid-Afrikaanse Weerdiens genoop om ‘n vloedwaarskuwing uit te reik vir veral mense in die laagliggende dele van die provinsie en ondermeer ook langs die Limpopo Rivier.

Derhalwe het talle boere hul plase langs die magtige Limpopo ontruim, terwyl ander per helikopter gered moes word. Veral plase in die Weipe- en Pontdriftgebied het erg deurgeloop, nadat die Limpopo sy walle oorstroom het.

In die Kruger Nasionale Park (KNP) is verskeie hekke vir die publiek gesluit. Pafuri-hek is heeltemal oorstroom en binne die KNP is talle ruskampe ook ontruim. Shingwedzi-ruskamp was Maandag heeltemal onder water, met slegs die geboue se dakke wat sigbaar was. Hier moes LMB Hoedspruit se 19 Eskader talle KNP-personeel vanaf dié dakke en uit die vloedwaters red. Die Eskader moes ook polisielede by Pafuri-hek gaan red.

Teen druktyd Woensdag het die dodetal in die geteisterde gebiede op 11 gestaan, alhoewel die getal nie amptelik bevestig kon word nie. In die Soutpansberg-area is ‘n pa en sy twee kinders dood, nadat hul voertuig op die Pontdrift/Musina-pad deur vloedwaters meegesleur is (sien meegaande berig).

Die vloedwaters het ook grootskaalse ontwrigting veroorsaak weens skade aan infrastruktuur. Makhado (Louis Trichardt) was teen druktyd reeds al vir dae sonder enige water (sien meegaande berig). Talle gebiede was ook nog van die buitewêreld afgesny te midde van grootskaalse opruimingsaksies.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines