

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2003
WATERPOORT – 'n Gru-ongeluk tussen drie swaar vragmotors het Vrydagaand (8ste) die lewens van twee persone geëis, ongeveer 25 kilometer van Waterpoort op pad na Vivo.
Die ongeluk het omstreeks 20:00 plaasgevind. Twee van die vragmotors was onderweg in die rigting van Waterpoort, terwyl die derde onderweg was in die rigting van Vivo.
Die agterste van die twee vragmotors wat onderweg was na Waterpoort, het klaarblyklik die voorste vragmotor probeer verbysteek, waarna dit tromp-op teen 'n aankomende vragmotor gebots het.
Die impak van die ongeluk was so geweldig, dat al drie vragmotors se kajuite gedisintegreer het. Een van die vragmotors het aan die brand geslaan en uitgebrand. Die een oorledene is tydens impak deur die voorruit van sy vragmotor geslinger, terwyl die ander oorledene verkool het. Wonder bo wonder het twee ander persone daarin geslaag om met geringe beserings uit die wrakstukke te klim.
Nood- en reddingsdienspersoneel was kort na die ongeluk op die toneel. Dit het hulle etlike ure geneem om te probeer uitpluis wat presies gebeur het, aangesien daar geen teken van enige van die kajuite was nie, met slegs drie sleepwaens wat langs en op die padoppervlakte gestaan het. Die wrakstukke het die hele pad versper en daar is besluit om die totale Waterpoort/Vivo-pad te sluit. Die pad is eers laat Saterdagoggend weer vir verkeer oopgestel, nadat herwinningsvoertuie met groot gesukkel die wrakstukke kon verwyder.

ADVERTISEMENT:
