

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 January 2013
Hulle was amper seker dit was ‘n krokodil ... en so wraggies is dit!
Groot was mnr. Leon du Rand van Musina se ongeloof toe hy 'n meterlange krokodil in die grensdorp se straat gevang het. Dié dorp het ook erg deurgeloop vanweë hewige reën en vloedwater, met strate wat in riviere omskep is.
Die krokodil het tot in Harperweg, naby Musina se Shoprite, geswem waar Du Rand hom gevang het. Dit nadat vriende hom Maandagaand geskakel en gesê het hulle dink hulle sien ‘n krokodil in die straat swem.
Gelukkig was dit nie die eerste krokodil wat Du Rand teëkom nie en die krokodil is vinnig gevang en sy bek toegebind. Omdat dit laataand was, het Du Rand maar die gedierte huis toe gevat en in die gastekamer se bad tuisgemaak.
“Gaste wat oorgeslaap het, was nie te beïndruk met die krok in die bad nie,” het Du Rand vertel. Hy het Dinsdag die krokodil in die Limpoporivier vrygelaat.
Dié krokkie het vermoedelik ontsnap van die Ratho-krokodilplaas op die oewer van die Limpoporivier in die Pontdrif-area. Mnr. Magiel Boshoff van die krokodilplaas het Dinsdag vanuit Botswana bevestig dat meeste van hulle krokodille op die plaas deur die vloedwaters meegesleur is. Alhoewel onwaarskynlik, het hy toegegee dat van die krokodille in Musina kon opeindig.
Die plaas boer regdeur die jaar met tussen 15 000 en 18 000 krokodille. Sy ouers, Sandra en Johan, het Magiel vertel, was teen Dinsdag nog steeds besig om hul skade te bepaal. Meeste van hul krokodille het in die Limpoporivier beland, maar presiese getalle kon nie bevestig word nie. Drie plaashuise het modderskade opgedoen.
Magiel het bygevoeg dat die naweek se vloedwater by hulle plaas die vloedlyne van beide 1988 en 2000 met twee meter verbygesteek het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
