ADVERTISEMENT:

 

Op 21 Januarie het ‘n vragmotor reg voor die T-aansluiting van die Waterpoortpad van die pad afgegaan. Sy neus het duskant Northwich se lyndraad gestop. Foto verskaf.

Hierdie draai is nie jou speelmaat nie

 

News  Date: 30 January 2013

 

‘n Plaaseienaar wat telkens moet deurloop onder voertuie wat in sy lyndraad vasjaag, wil mense waarsku dat die draai op die N1 by die Water­poortaansluiting uiters gevaarlik is.

Ongelukke gebeur male son­der tal wanneer bestuurders van­af Musina se kant aangejaag kom en beheer verloor. Bestuurders misgis hulle met die skerp draai waar die Waterpoortpad (R523) aansluit by die N1. Dan word daar in die lyndraad by die Northwich-padstal, op die N1 ná die Waterpoortaansluiting, ingejaag.

“Die mense kom van Musina se kant aangejaag omdat die pad net lekker gelyk word. Hulle gaan op die dubbellyne verby en misgis hulle met die skerp draai. Baie onskuldige mense het al hul lewens op hierdie draai verloor. Die mense wat oor die berg kom, dink hulle kan nou voet in die hoek sit en dan kom hulle by hierdie dodelike draai. Van die Waterpoortpad se kant af jaag vragmotors weer in die oorkantste plaas in. Mense besef nie hoe gevaarlik die stuk van die Waterpoortdraai tot by die tonnels is nie,” sê me. Naomi Botes, eienaar van Northwich.

Maandag, omstreeks 16:30, het ‘n vragmotor reg voor die T-aansluiting van die Waterpoortpad van die pad afgegaan. “Sy neus het duskant Northwich se lyndraad gestop op die hoop klippe wat vir padwerke in draadhokke gepak word,” sê Botes.

Die vorige ongeluk het op 16 Januarie net na 06:00 gebeur.  ‘n Taxi met ‘n oorvol sleepwa het van Musina se kant aangejaag gekom. Volgens die padstalwerkers het die voertuig op die dubbellyne verbygesteek. Die bestuurder het waarskynlik die voertuig probeer terugruk, waarna dit oor die pad gerol en met die neus in Musina se rigting tot stilstand gekom het. Een insittende is per ambulans weggeneem.

“Ons is dankbaar dat niemand dood is nie, maar ons het nou net mooi genoeg gehad van lyndrade herstel. Die betonpale en veiligheidsheining is plat vir 20 meter. Gelukkig het hulle die padstal met omtrent 15 meter gemis,” sê Botes. Die skade by die heining word voorlopig op sowat R10 000 geskat.

Op 26 Desember, omstreeks 14:00, het ‘n groot vragmotor met ‘n vrag koeldrank by dieselfde draai omgeval. “Baie persone het gestop en hul voertuie vol koeldrank gestop. Dieselfde nag is ‘n vrou wat ook koeldrank opgetel het deur ‘n taxi raakgery,” sê Botes.

Die Botesse sou graag aanbeveel dat die spoedgrens by die draai na 60km per uur verminder word. “Ons het al genoeg ongelukke, bloederige lyke wat toegegooi word en trokke wat omval en beroof word, die afgelope sewe jaar gesien,” sê Botes.

Die vrae oor die moontlikheid en prosedure om ‘n 60km/u spoedgrens weerskante van die betrokke draai  ingestel te kry, is na mnr. Ismael Essa, SANRAL se hoof vir die noordelike streek, gestuur. ‘n Antwoord word nog afgewag.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines