ADVERTISEMENT:

 

Na 31 jaar vind dogter haar pa

 

News  Date: 15 August 2003

 

MUSINA – 'n Kinderdroom, om eendag haar eie pa te kan sien, is die afgelope naweek hier op aandoenlike wyse bewaarheid, toe Lorna Schaap, nou 31 jaar oud en self moeder van drie kinders, haar vader, mnr. Hendrik (Stompie) Boshoff, vir die heel eerste keer in haar lewe kon omhels.

Pa en dogter het mekaar omarm en vir 'n geruime tyd met stille dankbaarheid so gestaan - Lorna met haar kop styf op die skouer van die pa oor wie sy sedert kleindogtertjietyd net kon droom.

Vir mnr. Boshoff, nou 62 jaar oud, was die ontmoeting met 'n dogter wat hy nooit geken het nie, ewe beduidend – veral in sy huidige omstandighede. Hy is nou al etlike jare heeltemal vervreemd van sy familie - insluitend die vyf kinders uit 'n huwelik wat nie gehou het nie. Hy was stom bewoë oor die volgehoue toewyding waarmee 'n kind – van wie hy nie eers geweet het nie – vir etlike dekades aangehou het om na hom te soek.

Die ontmoeting het plaasgevind in die sosiale klub van die SAPD op Musina, waar kommunikasiebeampte, insp. Jacques du Buisson, 'n klein geselligheid gereël het. Lorna het met hom geskakel, nadat sy inligting ontvang het dat haar vader homself vermoedelik op Musina bevind.

"Jacques het baie moeite gedoen en ons is baie dankbaar daarvoor," het Lorna by die geselligheid gesê.

Inligting oor haar vader se teenwoordigheid op Musina het gevolg nadat sy by herhaling in die media hulp gesoek het in haar jarelange soektog na hom. Iemand wat mnr. Boshoff op Musina opgemerk het, het haar laat weet en sy het onmiddellik by die polisie op die dorp hulp gesoek om hom op te spoor. Hy was verbaas en aangenaam verras toe hy van haar verneem.

Hy het as jong man jare gelede by Lorna se oumagrootjie loseer, waar hy bevriend geraak het met haar moeder. Met sy vertrek vandaar was hy nie bewus dat sy vriendin verwagtend was nie en sy het verkies om dit stil te hou. Van kleintyd af het Lorna se moeder haar vertel van haar pa en haar ook foto's van hom gewys.

"Dit was toe al my hartsbegeerte om hom self te kon ontmoet en deur die jare het die verlange voortgeduur. 'n Paar jaar gelede het ek met alle erns die soektog aangepak. Ek het vir myself gesê, voor ek my kop neerlê, moet ek hom sien." Die eerste positiewe reaksie het uiteindelik gekom, nadat sy van die soekrubriek in 'n bekende vrouetydskrif gebruik gemaak het.

Die afgelope naweek op Musina kon pa en dogter rustig saam deur die gesin se fotoalbum blaai, om dertig jaar se agterstand te help inhaal. "Wat ons aanbetref, is die verlede verby. Die toekoms maak nou meer sin," het die twee saamgestem.

Lorna, wat saam met haar man en gesin in Polokwane woon, het alleen na Musina gegaan vir die ontmoeting, maar praat met waardering van die volgehoue steun wat sy ook van haar man, Sybrin, in haar soektog ontvang het.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines