

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 January 2013
Sommige pensioenarisse van Makhado (Louis Trichardt) het al daarin geslaag om hulle nuwe SASSA-slimkaarte te kry, maar hoe om die geld in hulle bankrekenings oorbetaal te kry, is nog ‘n kopseer.
Talle probeer sonder sukses om die oorlaaide tolvrye nommers te skakel.
SASSA (South African Social Security Agency) poog sedert verlede jaar om die herregistrasie te doen, sodat die nuwe biometries-gebaseerde betalingsisteem vir die uitbetaling van maatskaplike toelaes in werking gestel kan word. Die voordeel is dat die kaarthouer meer opsies kan uitoefen om die geld te ontvang en die geld by enige handelaar wat MasterCard ondersteun, kan trek. Die nadeel is dat die sisteem tans swaar steun op die skakel van sekere nommers, wat deur 11 miljoen begunstigdes geskakel word.
Die herregistrasie in Limpopo sou vanaf Junie tot Desember verlede jaar geduur het. Dit is egter nog steeds volstoom aan die gang. Diegene wat hul ouderdomspensioen in kontant by betaalpunte gekry het, was eerste aan die beurt. Diegene wat hul toelaes in hul bankrekening of by die poskantoor ontvang, sou dan aan die beurt kom. Volgens ‘n brief van SASSA sal hierdie groep tussen 7 Januarie en 30 Maart vanjaar herregistreer word.
Ons Tuiste se inwoners het op 16 Januarie besoek van SASSA ontvang. “Ons moes twee kopieë van elkeen se identiteitsdokumente gereed hou. Hulle het vingerafdrukke en ‘n foto geneem en die ID’s ingesleutel. Die herregistrasie is gedoen en die nuwe SASSA slimkaarte is daar en dan uitgedeel,” sê me. Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste.
“Hulle het ons baie goed behandel," sê me. Baby Pretorius (82). Pretorius sê egter dat hulle hul bekommer oor die proses om die toelae in hul bankrekening inbetaal te kry.
SASSA sê dat “diegene wat hulle huidige bankrekening wil behou, elke maand CPS se tolvrye nommer 0800 60 01 60 moet skakel om die geld te laat oorplaas na hulle bankrekening.” Cash Paymaster Services Eiendoms Beperk (CPS) is die maatskappy wat die R10 miljard kontrak ontvang het om SASSA se uitbetalings te doen.
Een pensioenaris se dogter, wat haar sake vir haar behartig, sê dat sy op verskillende tye van die dag en nag gebel het, maar dat dit ‘n vrugtelose oefening was. “As jy die pensioen in jou bankrekening wil hê, lyk dit vir my jy kan maar daarvan vergeet,” het sy gesê.
Die Zoutpansberger het CPS se tolvrye nommer aangedurf en een middag laat uiteindelik deurgekom. Die konsultant het die versekering gegee dat die oproepe se volumes ná Maart sal afneem en dat die nommer dan makliker geskakel sal kan word. “Die enigste manier gaan wees om hierdie nommer te skakel; daar is geen ander manier nie,” het die konsultant gesê.
Mnr. Hein Oosthuizen het ‘n brief ontvang dat hy op 11 Januarie moet herregistreer en die nommers moet skakel om te hoor waarheen hy moet gaan. Hy kon glad nie deurkom nie. Oosthuizen kan as gevolg van ‘n mediese toestand in sy bene in elk geval nie in ‘n tou gaan staan nie.
SASSA sê dat begunstigdes wat siek of swak of ouer as 75 jaar is, tuis besoek sal word. Hulle moet ‘n afspraak reël deur die tolvrye nommers te skakel, iets wat juis tans die probleem skep.
‘n SASSA-beampte het op 17 Januarie gesê dat diegene wat toelaes ontvang, nie bekommerd moet wees nie. “Hulle uitbetalings sal nie geaffekteer word nie. Op geen tydstip sal SASSA net die herregistrasie summier toemaak en begunstigdes straf nie, al is dit selfs ná 30 Maart. Hulle geld sal steeds in hul bankrekening inbetaal word totdat hulle hul SASSA kaart het.” Buiten die kantoor in Vleistraat, is daar ‘n nuwe SASSA-kantoor in die Checkers-gebou op die boonste vloer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
