

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die man wat verlede week kort na sy arrestasie uit aanhouding ontsnap het en deur die polisie as uiters gevaarlik beskryf word, die 32-jarige Oupa Makhokha, is weer in aanhouding.
Makhokha en vyf ander verhoorafwagtendes het verlede Woensdag, 1 Desember, vanuit die polisieselle op Thohoyandou ontsnap. Een van die verhoorafwagtendes het sogenaamd ‘n asma-aanval gekry, maar toe die twee polisiebeamptes aan diens hom tehulp snel, is hulle in die selle oorrompel. Dit het gevolg skaars twee dae nadat Makhokha en een van sy lakeie na ‘n wilde jaagtog deur die strate van Louis Trichardt deur lede van die blitspatrollie gearresteer is. Hulle het met ‘n voertuig probeer wegjaag wat op Sondag, 28 November, in Polokwane gekaap is. Die eienaar van die voertuig, die 57-jarige mnr. Pieter du Plessis, is tydens die kapingsdrama doodgeskiet, terwyl nog ‘n lid van die publiek ernstig gewond is.
Donderdag, 4 Desember, net na 06:00, het die polisie se woordvoerder in die Vhembe-area, kapt. Ailwei Mushavhanamadi, deur middel van Phala Phala FM ‘n beroep gedoen op lede van die publiek om op die uitkyk te wees vir Makhokha en die vyf ander ontsnaptes. Hy het ook ‘n beskrywing gegee van Makhokha.
In daardie spesifieke stadium was Makhokha en twee ander ontsnaptes per bus onderweg vanaf Thohoyandou na Mphephu. Een wakker insittende het besef dat dit wel Makhokha was wat saam met haar in die bus gery het.
Die bus het in ‘n stadium gestop om mense oor te laai na minibus-taxis. Die vrou het saam met Makhokha en die ander twee voortvlugtendes uit die bus geklim en die polisie per selfoon ontbied. Makhokha en sy twee makkers het in ‘n minibus geklim, maar intussen het ‘n speurder in siviele klere op die toneel opgedaag en die taxibestuurder versoek om reguit na die polisiestasie op Siloam te ry. Dit het gebeur sonder Makhokha se wete.
Met die minibus-taxi se aankoms by die polisiestasie se hek, het Makhokha en die ander twee verdagtes onraad gemerk. Hulle het die minibus-taxi tot stilstand gedwing, die deur oopgeskop en weggehardloop. Ongelukkig het die polisie hulle reeds ingewag en Makhokha se twee makkers is binne meters van die polisiestasie aangekeer.
Makhokha het in daardie stadium nog daarin geslaag om die polisie ontwyk. Hy het by ‘n woonhuis ingehardloop en in ‘n drom water gaan skuiling soek. Die drom water het egter nie gehelp nie en polisiebeamptes het kort daarna ‘n baie nat Makhokha weer in hegtenis geneem.
Kapt. Mushavhanamadi het teen druktyd bevestig dat drie van die ses ontsnaptes nog steeds op vrye voet was.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
