ADVERTISEMENT:

 

Tannie Sarie Walkenshaw kyk na die oorblyfsels van haar dagboek waarin sy daagliks 'n brief skryf vir haar oorlede man, oom Bokkie. Die dagboek het saam met haar kombuistafel in die slag gebly tydens die brand.

So byna lê die vlamme haar hele huis in puin

 

News  Date: 01 February 2013

 

Stel jou voor: Jy staan in die middel van die nag op en jou kombuis is in ligtelaaie, met die vlamme wat raak-raak aan die plafon.

Dit is presies wat tannie Sarie Walkenshaw van Mopaniestraat in Makhado (Louis Trichardt) Maandagoggend tydens die vroeë oggendure oorgekom het.

“Ek het wakker geword en gehoor tik, tik, tik,” het tannie Sarie vertel. Die ding wat so geraas het, was ‘n olielampie met sitronella-olie wat sy laat brand het op haar kombuistafel. Dit is al ‘n jarelange gewoonte om die lampie, wat tannie Sarie “nog destyds saam met oom Bokkie in die wildtuin gekoop het,” te laat brand vir muskiete. Op ‘n manier moes die lampie seker omgeval het.

“As dit nie vir my Hemelse Vader was wat my wakker gemaak het nie,” sê Tannie Sarie, “het my hele huis dalk afgebrand.”

Die ronde kombuistafeltjie en -stoele was verswelg in die vlamme. Teen die tyd wat tannie Sarie besef het wat aangaan, het die vlamme al begin mik na die dak. Haar elektrisiteit het ook uitgeskop.

Tannie Sarie het dadelik haar buurman, Kobus,  gebel.“Help, my huis brand!” is al wat sy kon uitkry oor die foon. Kobus, vertel tannie Sarie, het soos blits reageer om die vlamme te help blus.

Dit was eers ná die vlammedrama dat Tannie Sarie besef het hoe ‘n noue ontkoming sy gehad het. Versekeringsassessors, vriende en familie wat na die skade kom kyk het, was dit eens dat die vlamme net-net betyds geblus is.

Die hartseerste deel vir tannie Sarie van die hele affêre was dat die dagboek, waarin sy elke aand ietsie vir haar oorlede man (oom Bokkie) skryf, feitlik heeltemal uitgebrand het. Sy het die dagboek begin hou kort na sy afsterwe in November verlede jaar.  Die vorige aand het sy dit oop op die kombuistafeltjie gelos. “Ek praat nog elke dag met hom ... ek verlang so baie,” het Tannie Sarie gesê.

Buiten vir die dagboek, het tannie Sarie se pillesakkie ook in die slag gebly. Van die prente wat teen die muur gehang het se rame is geskroei en die yskas lyk nou asvaal - net soos die mure.

“Dankie tog vir versekering,” was tannie Sarie se opmerking.

Intussen het tannie Sarie begin reëlings tref om haar kombuis weer leefbaar te kry. Dit het teen Dinsdag dol gegaan om al die versekeringvorms ingevul te kry. Met al die reëlings en oproepe wat gemaak moes word, was daar min tyd vir dinge.

“Ek het nog nie eens tyd gehad om ‘n nuwe dagboek te gaan koop nie. Ek moet darem dankie sê vir Kobus wat my so vinnig kom help het,” het Tannie Sarie gesê. Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor Marie en Willie, Riekie Coetzee, Billy van Blerk en almal wat haar gehelp het.

Olielampies, het tannie Sarie gesê, weet sy nou uit ondervinding is gevaarlik. “Mense moet nie dieselfde fout as ek begaan nie. Kyk maar mooi hoe jy die lampies gebruik,” was haar waarskuwing.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines