ADVERTISEMENT:

 

Mynreus kyk na ander waterbronne vir projek

 

News  Date: 01 February 2013

 

Daar is niks geheimsinnig rondom hulle ooreenkoms met die mynmaatskappy CoAL of Africa Limited (CoAL) nie.

So meen boere in die Nzhelele-area net noord van die Soutpansberg, wat 'n waterooreenkoms met CoAL onderteken het ten opsige van hul beplande Makhado Myn.

CoAL het reeds verlede jaar aansoek gedoen vir hul Makhado projek se water- en mynregtelisensie. Die Makhado Myn is sowat 65km suidwes van Musina geleë.

CoAL het verlede week met hul eerste waterstudie van die jaar begin. Hierdie studies, wat beoog om “nuwe water te skep”, is ‘n direkte uitvloeisel van die ooreenkoms wat CoAL aangegaan het met ‘n groep boere van die omgewing. Meeste van dié boere boer met sitrus.

Hierdie ooreenkoms is verlede jaar onderteken. In terme van die kontrak het die boere tussen sewe en agt persent van hul waterregte in die Nzhelele-besproeiingskema aan CoAL verkoop. Altesaam nege boere het die kontrak geteken.

“Ek dink dit is ‘n kontrak waarop my kinders se kinders trots sal wees,” het mnr. Peter Nicholson, een van die boere, verlede Vrydag gesê.

Nicholson het, tydens die myn se besoek verlede week, CoAL se konsultante en bestuurders meer ingelig oor die Nzheleledam en die kanaalstelsel. Hulle het ook oor die dam en beplande gebied van die myn gevlieg om die natuurlike loop van die riviere en die kanaalstelsel te bepaal. Die myn is geleë in die Limpoporivierbekken, wat die Nzheleledam en Mutamba-, Nzhelele- en Nwanedzirivier insluit.

In ruil vir hul waterregte in die besproeiingskema het CoAL onderneem om ondersoek in te stel daarna om die huidige kanaalstelsel te herstel of, alternatiewelik, om die hele skema as't ware oor te doen. Dié plan, het die projekleier van die Makhado Myn, mnr. Eugene O’Brien, gesê, sal die landbou- en mynindustrie in staat stel om saam te werk.

Hy het verduidelik dat daar tans tot soveel as 30% van die Nzheleledam se water verlore gaan weens die swak instandhouding van die infrastruktuur. “Op dié manier gee CoAL terug aan die gemeenskap en verseker so die toekoms van die area,” het O’Brien gesê.

CoAL het reeds tydens ‘n water-opedag verlede jaar erken dat hulle onseker is oor waar die water vir die Makhado Myn vandaan gaan kom. Die myn is geleë in ‘n waterskaars biosfeer - ‘n feit waaroor baie anti-mynbou-organisasies CoAL al gekritiseer het. Die Mudimeli-gemeenskap, wie se woongebied grens aan die Makhado projek, is een van die organisasies.

Nicholson was egter baie opgewonde oor die ooreenkoms, die eerste van sy soort. “Hierdie vallei sal beter daaraan af wees met die ooreenkoms,” het hy namens al die boere gesê. “Almal sal daaruit kan voordeel trek.” Hy boer self al vir meer as 30 jaar in die omgewing en verskaf werk aan meer as 1000 werkers. Tussen die nege boere wat die kontrak geteken het, is daar tans 5 000 mense wat verseker is van werk.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines