

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 February 2013
Nasionale en internasionale nuusberigte oor derduisende krokodille wat ontsnap het as gevolg van verlede week se vloede het wydverspreide paniek veroorsaak.
Koerante uit so ver as Australië, Engeland en Frankryk het berig oor die monstergrootte krokodille wat ontsnap het van die Ratho-krokodilplaas naby Pontdrif. Paniek het by mense begin posvat, nadat daar berig is oor krokodille wat in Musina gevang is. Van die berigte het ook melding gemaak van ‘n huisgesin van die area wat gered moes word, nadat hulle omsingel is deur krokodille.
Sommige publikasies het die gebeurtenis as een van die grootste mensegemaakte rampe van die eeu beskryf.
Mnr. Alan McMurtrie van die Departement Omgewingsake in Makhado (Louis Trichardt) het vandeesweek namens die Boshoffs, eienaars van die plaas, met die media gepraat.
McMurtrie het gesê die meeste krokodille wat ontsnap het, is tussen een en twee meter lank. Volgens hom is die krokodille wat in Musina gekry is nie afkomstig van Ratho nie. Gerugte dat krokodille in van die omliggende boere se landerye en boorde gekry is, het hy ook weerlê.
Meeste van die krokodille wat ontsnap het, het hulle op die krokodilplaas in poele tuisgemaak. Soos wat die poele begin opdroog het, is die krokodille gevang. “Dit was nie van die groot krokodille wat losgekom het, soos wat daar berig was nie,” het McMurtrie gesê. Hy kon Dinsdag nie bevestig hoeveel krokodille al gevang is nie.
“Die departement help die Boshoffs om alles te koördineer in terme van die vang van die krokodille en die media,” het McMurtrie gesê. Hy het die publiek gewaarsku om, sou hulle ‘n krokodil op hulle plaas kry, dit liefs nie self te probeer vang nie.
“Dit is baie gevaarlik as jy nie weet hoe om ‘n krokodil te vang nie.”
Mense van die area wat ‘n krokodil teëkom, kan vir McMurtrie skakel by 082 904 5812.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
