

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 February 2013
Wat ‘n vreugde om ‘n dik straal water by die nuwe boorgat naby die toetsterrein in Makhado (Louis Trichardt) te sien! Dit is die eerste van die dorp se nuwe boorgate wat klaar is.
Die vier nuwe boorgate sal heelwat verligting bring ten opsigte van die dorp se nypende watertekorte.
Maandag om 17:15 het die eerste water uitgekom, nadat die subkontrakteur, mnr. Paul Otto, die elektrifisering van die pomp voltooi het.
“Hierdie is die enigste boorgat wat volledig klaar is en dit is te danke aan die hoofkontrakteur vir hierdie boorgat, mnr. Phathutshedzo Malivha van PM & Brothers. Slegs hierdie een boorgat was in so ‘n mate vir my gereed dat ek die elektrifisering kon afhandel,” het Otto gesê.
Die ander drie boorgate, wat water direk in die retikulasiesisteem sal inpomp, is verdeel onder die kontrakteurs Bukuta en Bald Mike, met Otto wat die elektrifisering doen.
Voor verlede week se groot reën was administratiewe sake rondom die vier nuwe boorgate se elektrifisering aanvanklik die oponthoud. Die plaaslike voorsitter van AfriForum, mnr. Wally Schultz, het dit toegeskryf aan burokratiese rompslomp tussen die Makhado en Vhembe Munisipaliteite.
Vhembe se waterdienste bestuurder van die Makhado-streek, mnr. Eric Masakona, het verduidelik: “My kontrakteurs het besef dat hulle nie die nodige kapasiteit of vaardighede vir die elektrifisering het nie en hulle het mnr. Paul Otto aangestel vir die werk. ‘n Sessie is geteken dat Vhembe Otto direk sal betaal. Vhembe het aansoek gedoen by die Makhado Munisipaliteit vir elektrisiteit vir die boorgate-projek en hulle het ons toestemming gegee,” het Masakona gesê.
Nadat Otto se aanstelling uitgesorteer is, sou die elektrifisering op 14 Januarie begin het maar is deur die reën in die wiele gery. Op 23 Januarie het die wiele begin rol en daar is vir vyf dae aanmekaar gewerk. Padkruisings is gemaak, slote is gegrawe, kabels is opgetrek en die krag is gekoppel. Op 28 Januarie is die terreinoorhandiging gedoen.
Hierdie boorgat sal water neem na die Berghstraat reservoir en daarvan na die hospitaalreservoir. Die Berghstraat reservoir se kapasiteit word op 2 megaliter geskat. Die nuwe boorgat, wat ongeveer ses liter per sekonde gee, sal daardie reservoir in sowat 24 uur kan volmaak.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
