ADVERTISEMENT:

 

Reuse luislang maak sy opwagting in plantasie

 

News  Date: 07 February 2013

 

Ta is dié naweek deur ‘n groepie kinders langs ‘n voetpaadjie in die plantasie gesien. Twee boeties, Erich en Gerhart Meyer, wat saam met hul familie Sondag in die berg piekniek gehou het, het vertel oor die slang.

Hulle het saam met nog maats bospaadjies gaan verken, toe ander mense hulle roep om na die slang te kom kyk. Bergfietsryers wat gereeld in die berg gaan ry het die slang ‘n klipgooi van een van die berg se vele enkelroetes gewaar.

“Ons het eers nie die slang gesien nie, maar toe was ek en Marco soos in ‘Joe, die ding is groot!’” het Gerhart Maandag vertel. Marco is ook een van Gerhart se vriende wat fietsry.

Die meneer van ‘n slang, van meer as drie meter, het asof dood tussen die fietspaadjie en ‘n stroompie gelê. Met sy groot boepens het die slang van ver af amper soos ‘n krokodil gelyk. Die slang, oortrek met brommers, was egter nie dood nie...

O nee, slang se kind was maar net so stil want hy was nog besig om sy laaste maal te verteer.
Teen Maandagmiddag, toe die twee broers en nog ‘n maat, Francois Labuschagne, vir die Zoutpansberger die slang gaan wys het, was hy nie meer so stil nie. Hy het net mooi niks van die media se aandag gehou nie en het pens en al probeer wegseil.

“Sy maag is vandag baie kleiner as gister,” het die drie seuns opgemerk.
‘n Foto moes maar inderhaas geneem word, want slang-se-kind het alles wat beweeg baie wantrouig dopgehou.

Alhoewel luislange in die berg voorkom, is die oorsprong van hierdie luislang ietwat van ‘n raaisel. Sommige inwoners  het aan die koerant vertel dat die slang al meer as ‘n week gelede van ‘n plaas in die omgewing na die berg geskuif is, omdat hy ‘n kalf gevang het. Die sekuriteitswag by die plantasiehek het egter weer vertel dat die slang verlede Donderdag na die plantasie gebring is, omdat hy iemand van die Skuldbult-area se hond gevang het.

Uit vrees dat die slang dalk seer- of doodgemaak kan word, is die plaaslike kantoor van die Departement van Omgewingsake en Natuurbewaring gevra om in te tree. Dit nadat van die plaaslike bevolking op die slang afgekom het en dit wou voorkom asof hulle die slang wou doodmaak.

Die departement se mnr. Alan McMurtrie het gesê dat die Suid-Afrikaanse luislang (Python natalensis) gelys is as kwesbaar op die rooidatalys en daarom nie doodgemaak of gevang mag word nie. ‘n Luislang mag ook nie verskuif word sonder ‘n toepaslike vervoerpermit nie. Iemand wat hom hieraan skuldig maak, het McMurtrie gesê, kan homself groot boetes op die hals haal.

‘n Kollega van McMurtrie, mnr. Tiny Sinden,  wat Maandagmiddag die saak ondersoek het, het gesê dat die luislang ‘n dodelike slang is en liefs nie deur leke gepla of geskuif moet word nie. Lui­slange is baie sterk en maak hul prooi dood deur dit te versmoor. Die slang het ’n bek vol tande en sodra die prooi gevang is, draai die slang ‘n paar kronkels om die prooi en versmoor dit.

Intussen het McMurtrie en Sinden Dinsdag gereël dat die luislang na ‘n plek van veiligheid verskuif word. “Die slang is geskuif en is oraait,” het McMurtrie bevestig.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines