

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “In Limpopo is dit ‘n taboe om Vigs te hê,” is ‘n voorlopige waarneming wat ‘n Nederlandse student maak in haar navorsing oor HIV/Vigs.
Die 21-jarige Elise (spreek uit Elishe) Amoraal, ‘n student van die Universiteit van Utrecht in Nederland, is besig om in die Limpopo Provinsie en tans in Louis Trichardt navorsing te doen vir ‘n meestersgraad in Antropologie. Haar onderwerp is HIV/Vigs en hoe die kerk Vigs hanteer.
“Ek het geredeneer dat Suid-Afrika ‘n hoë voorkoms van HIV/Vigs het en Suid-Afrika het ook ‘n hoë persentasie Christene. Daarom wou ek ondersoek wat die Christene omtrent Vigs doen,” sê Elise. Verder maak die feit dat mense vriendelik en gasvry is, Suid-Afrika ook ‘n ideale land om navorsing in te doen.
“Ek het baie lief geraak vir Louis Trichardt. Hier is sulke gawe en warm mense.”
Om haar studie se fokus te vernou het sy spesifiek die Nederduits Gereformeerde Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk in Limpopo uitgekies om haar navorsing te doen. Limpopo is die provinsie met die derde hoogste voorkoms van HIV/Vigs. Sy het die afgelope 14 weke in die Mankweng-omgewing navorsing gedoen, asook in Louis Trichardt en omgewing.
Elise wil vasstel wat gemeentes doen om Vigs te voorkom en om vigspasiënte te begelei. Een van die vrae wat sy ondersoek is wat die verskil is tussen die wit en swart gemeentes in hulle stryd teen HIV/Vigs.
Elise sê dat Vigs-bewustheid in Holland baie sterk is.
“Die Christene gee baie geld om te help met Vigs-programme in ander lande, hoewel daar nie baie mense in Nederland is wat Vigs het nie,” sê Elise. Sy sê dat mense daar ook baie openlik oor HIV/Vigs praat.
Die voorlopige bevinding is dat swartmense wel oor HIV/Vigs praat, maar nie oor seksualiteit nie. Ouer mense noem nie terme by die name nie en gebruik eufemismes. Jong mense praat meer vrylik met mekaar. Elise het waargeneem dat gemeentes oor HIV/Vigs praat, maar dat sy nie juis kon waarneem dat daar iets gebeur nie.
In Louis Trichardt het sy voorlopig waargeneem dat die kerk nie oor HIV/Vigs praat nie en dit skyn of dit nie vir hulle ‘n realiteit is nie. Elise het onderhoude gevoer met lidmate, ouderlinge, predikante en jongmense.
“Ek het baie uiteenlopende antwoorde gekry. Sommige sê die kerk doen genoeg, want daar is nie HIV/Vigs in die gemeente nie. Ander sê die kerk doen nie genoeg nie en behoort meer te doen. Die verskillende antwoorde maak my gevolgtrekkings baie moeilik,” sê Elise. Dit lyk of die blanke kerk nie voel dat HIV/Vigs ‘n probleem is nie en dat hulle daarom min aandag aan die pandemie skenk.
Elise se persoonlike mening is dat mense alhier die HIV/Vigs-probleem onderskat en dat daar mettertyd ‘n groot gaping in die bevolking kan wees, soos wat die geval in Zambië is.
“HIV/Vigs raak elke vlak van die samelewing en beïnvloed elke persoon. Dit lyk of mense nie bewus is van die reuse omvang van die probleem nie,” sê Amoraal.
Sy voel dat die regering HIV/Vigs ‘n aanmeldbare siekte behoort te maak.
“Deur mense met HIV/Vigs anders te behandel as mense met ander aansteeklike siektes, diskrimineer jy eintlik teen hulle. Hulle vertel my dat iemand met tering (TB) in die tronk in ‘n afsonderlike sel gehou word, maar iemand met HIV/Vigs, wat aansteeklik is, bly in die sel,” sê Elise.
Elise het net een HIV/Vigs-pasiënt gekry om mee te praat en wel in Vleifontein. Sy wil graag ook met ‘n blanke HIV/Vigs-pasiënt praat, maar sê dat dit nie lyk of sy een gaan kry nie. Sy skryf dit toe aan die feit dat, in ‘n kleiner gemeenskap, mense nie maklik oopmaak nie, omdat almal mekaar ken. Sy het gevind dat dit nie meer taboe is om oor HIV/Vigs te praat nie, maar dit is taboe om aan Vigs te ly.
“Ook die kerk sal die werklikheid in die gesig moet staar. Die kerk sê hoe dit veronderstel is om te wees as mense volgens die reëls lewe, maar die realiteit is dat mense nie volgens die reëls lewe nie,” sê Elise.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
