

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 February 2013
Bekende sendeling van Makhado (Louis Trichardt) ds. Louis Schnetler herstel bietjie vir bietjie na ‘n beroerte. Maandag het hy verras deur ‘n lang gebed hardop en met oortuiging te bid tydens die besoek van ‘n ander sendeling vanaf Malawi.
Ds. Schnetler, wat verlede jaar voltyds en op eie onkoste by die Sola Scriptura Bybelskool in Malawi klas gegee het, het in November teruggekeer ná ‘n diagnose van kanker. Voordat enige behandeling egter geskeduleer kon word, moes hy op 13 Januarie na Pretoria gejaag word om ‘n operasie vir trombose in die regterbeen te ondergaan. Op 20 Januarie het hy ‘n beroerte aanval oorleef en word sedertdien in die noodkamer in Ons Tuiste versorg.
“Ons doen dit by wyse van uitsondering. Ds. Louis was baie aktief by Ons Tuiste vir meer as 20 jaar. Hy was lank voorsitter van die Louis Trichardt Ouetehuisvereniging en hy is steeds lid van die Ons Tuiste Trust. Dit is vir ons baie swaar om hom so te sien. Ons was altyd van hom afhanklik en nou is hy van ons afhanklik. Sy linkerkant is aangetas,” sê die bestuurder van Ons Tuiste, me. Kittie de Bruin, en voeg by dat sy toestand baie wipplank ry. Kittie kon dit amper nie glo toe sy hoor van die lang gebed wat die dominee gebid het nie. Sy sê dat hy tot en met die Saterdag meestal geslaap het en net kort sinnetjies kon prewel. Mnr. Mark Beckett, wat voltyds as sendeling by Foundations for Farming in Malawi betrokke is, het met groettyd vir ds. Louis gebid, waarna ds. Louis ‘n roerende gebed in Engels gedoen het. Al die omstanders se trane het gevloei.
Ds. Louis het sy 70ste verjaarsdag op 27 Januarie in Ons Tuiste gevier. Kittie sê dat sy jammer is dat sy alle besoekers, behalwe die familie en predikante, tot dusver moes wegwys, maar dat ds. Louis nou besoek mag ontvang tussen 09:00 en 11:00 en 14:30 en 16:00.
“Ds. [Henry] Nengovhela van die VGK se Kranspoortring, besoek hom amper elke dag en leraars van verskillende kerke het vir hom kom bid,” sê ds. Louis se vrou, Sarie. Ds. Louis was predikant van die VGK (Verenigende Gereformeerde Kerk in Afrika) Kranspoort vanaf 1986 tot sy aftrede in 2008, waarna hy die gemeente steeds gehelp het. “Ons het vanmiddag ‘n vergadering om te besluit hoe ons die fondse gaan in om ds. Schnetler vir ‘n MRI skandering te stuur,” het ds. Henry Dinsdag gesê. Ds. Louis was ook deeltyds predikant by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente van 2009 tot 2011.
Sarie en haar gesin het die hele gemeenskap bedank vir hul ondersteuning, maar het tog die volgende persone en groepe uitgelig: dr. André van der Walt, Tienie Venter, Kittie de Bruin asook bestuurslede en personeel van Ons Tuiste, Lucas Vermeulen, Maud Myburg, Johan Moolman, ds. Jan Pretorius, ds. Henry Nengovhela en die VGK, Louisa Kirsten, Ansie van der Gryp, Violet Prins en die leraars en lidmate van al die verskillende kerke vir al die gebede, goeie wense, oproepe en boodskappe. Besonderse dank is ook uitgespreek teenoor elkeen wat ‘n finansiële bydrae gemaak het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
